My twee-en-sestigste verjaardagfotos sal nie iewers op ‘n muur pryk of bedkassie tentoongestel word nie.

My neus vertoon ‘n aaklige rooi kleur so al asof ek my lewe deur ‘n oormaat drank gebruik het (wat ookal ‘n oormaat drank beteken). Die oorsaak is egter (meerendeels) ‘n salf wat ek noukeurig die afgelope paar weke aangewend het om ‘n paar keratoseletsels (‘n voorloper van velkanker) af te haal. Oor ‘n paar dae gaan my neus weer blink, net soos my bles nou blink wat ek vir dieselfde rede ‘n rukkie terug deur foto dinamiese terapie gesit het.

Die foto dinamiese terapie laat ‘n mens se kopvel voel hoe ‘n roosterbroodjie moontlik voel net voor dit uit die toaster gehaal word. Vir daardie rede het ek eerder die sagte opsie van die salf gevolg vir my neus.

Gelukkig is my dogter, en vennoot, nog vol ywer om beide my en haar lewens finansieel voorspoedig te maak.

Benewens my neus en ‘n ligte nadraai van ‘n jig-episode (na Braaidag) is ek dankbaar om te rapporteer dat alles verder voor die wind gaan.

My PPS konsultant het my vanoggend meegedeel dat ek nie op 65 verplig is om my kapitaalrekening op te neem nie, so ‘aftrede’ lê DV (soos ons ouers gesê het en ons nou weer met Covid besef het) nog iewers in die verskiet.

Gelukkig is my dogter, en vennoot, nog vol ywer om beide my en haar lewens finansieel voorspoedig te maak. Sy doen al méér as die helfte van die werk. Iets in die gees van Meatloaf se woorde “I’m gonna love her for both of us”.

Ten koste van my immer nederige self moes ek egter vanoggend tot die besef kom dat ek eintlik ‘n baie belangrike persoon moet wees. Toe ek my kaart by die OTM indruk verskyn daar op die skerm “Happy birthday Adriaan”….

Beatrice, my vrou, haal my nou vinnig in en word volgende week sestig. Die Kaapkinders kom dan kuier vir ‘n voltallige familie wegbreeknaweek.

My beker loop oor.

Dankie aan ons getroue kliente vir die gelukwense en jare se besigheid! Ons gaan nog lank in die omloop wees.

1 Comment

  • Nadien Steenkamp

    September 28, 2022 - 9:21 pm

    Soos altyd n lekker leesdingetjie. Baie geluk met jou verjaarsdag, liefste At!!

Leave A Reply