Dis net voor 8nm op 22 November 1977 toe Robert sy verkiesingskantoor in Springs verlaat.
Sy vrou, Jeanne-Cora, het kwart oor sewe gebel, en sy sekretaresse, Sarah Lombaard, meegedeel dat sy gaste gearriveer het en vir hom wag.
Dis ‘n week voor die nasionale verkiesings en Robert het baie hooi op sy vurk. Hy dink aan die afspraak wat nog tuis wag, voor dat hy tot ruste kan kom met ene ‘McDougall’ soos hy die John Doe’s of Jan Allemans van die wêreld noem, afhangende van hulle land van herkoms.
Sy engelse weergawe van hierdie karakter spruit dalk voort uit die tyd van sy nagraadse studies by Oxford toe Middle of the Road se Tweedle Dee-liedjie bekend geraak het.
“Do you recall some years ago? Up in the mountains that were white with snow. Inside a cavern McDougall he was plannin’. There’s gonna be a showdown with somebody he knows…..”
Die ongure karakter van McDougall in die liedjie was op almal se lippe in daardie jare.
Een of ander McDougall-karakter sou hom by sy huis kom sien en dit het tyd geword om te ry.
Wat daarna gebeur het weet niemand tot vandag toe nie. Dit is vandag nog ‘n raaisel waaroor daar baie bespiegel is en waaroor daar nog meer teorieë bestaan.
Wat wel bekend is, is dat Robert later die aand saam met sy vrou Cora-Jeanne vermoor is. Hulle is verskeie kere geskiet en met ‘n skerp voorwerp gesteek. Die boosdoeners het daarna hulle kombuiskaste en mure met rooi verf bespuit met die woorde RAU TEM. Wat dit ookal beteken weet niemand tot vandag toe nie.
Een van die toerieë van wat die rede vir die moorde was, is dat hy in sy hoedanigheid as ‘n lid van die front maatskappy wat sanksies vir die regering omseil het, bewus geword het van ‘n massiewe finansiële “scam” waarby politici betrokke was. Hy was na bewering op die punt om ‘n fluitjieblaser te word.
Of daar waarheid daarin steek sal ons seker nooit weet nie. Daar het verskeie boeke die lig gesien oor hierdie afgryslike hoofstuk in ons politieke geskiedenis. Niemand is egter ooit aangekla of vervolg nie.
Dinge verander maar bly tog maar dieselfde. Sedertdien het die ANC-regering oorgeneem met steeds maar politici wat hulleself onregmatig verryk. Daar is ‘n nuwe generasie van fluitjieblasers wat hulle ook die gramskap van hierdie hoë profiel politici op die hals haal.
Onlangs was ene Agrizzi so een.

‘n Jaar of wat gelede sterf sy voormalige baas Gavin Watson onder eienaardige omstandighede. Hy bots teen ‘n betonstruktuur terwyl hy vroeg-oggend naby ORT Lughawe met ‘n klein Corolla ry, en dít terwyl sy eie Groot BMW by die werksplek geparkeer staan.
Daar was net R70 in sy beursie en nie enige reisdokumente nie. Sy veiligheidsgordel was nie vas nie en daar was geen remmerke nie. Wat hy naby ORT gesoek het bly ‘n raaisel.
Hy sou later die dag voor ‘n kommissie begin getuig het waar hy moontlik politici kon impliseer. Tans word die voorval nog ondersoek.
Hoe presies en hoekom Watson dood is weet ons nie. Of hy vermoor is weet ons ook nie. Daar was nie met groot rooi letters iets op die motor geverf nie. Hy was alles behalwe ‘n eerlike besigheidsman. Hy het ‘n paar goed geplaasde politici se beursies blinkstyf gehou.
Meer onlangs blaas André De Ruyter by Eskom ‘n groot fluit oor politieke inmenging en grootskaalse bedrog. Sy kontrak word summier beëindig en hy gee te kenne dat hy vir eers in die buiteland gaan vertoef terwille van sy veiligheid.
Dalk sal hy in die veiligheid van iewers oorsee meer lig op sy bewerings werp.
Die ratte van geregtigheid draai stadig, maar hopelik draai hulle darem nog sodat die skurke in ons samelewing tog mettertyd hulle loon sal kry. Dit is ons as regslui, wat die Departement van Justisie en die Regsbank insluit, se taak.
Anders as in die geval van Robert Smit wie se moord nooit opgelos is nie.
