In Amerika word mense wat ons tipe werk doen ‘ambulance chasers’ genoem. Miskien is dit maar oral dieselfde, ons dink dalk net ons is beter as hulle.

Ek was vanoggend op ‘n ongelukstoneel pas nadat die ongeluk plaasgevind het. ‘n Ou omie en sy vrou het kop-aan-kop gebots met ‘n aankomende VW Gholf na die omie waarskynlik ‘n lae bloedsuikeraanval of dalk ‘n ligte beroerte gehad het.

Na ons onlangse eie ongeluksbelewenis het ons ons noodhulpsakkie effens aangevul met, wat ons van mening is, wat nodig is in noodsituasies. Ek hou toe stil, waar ek andersins seker maar verby sou ry, om my tassie aan te bied vir iemand met meer noodhulpkennis as ekself.

Gelukkig was daar ‘n verpleegsuster wat van nêrens af haar verskyning gemaak het, bereid om my noodhulpsakkie se inhoud aan te wend om die tannie se oopgeskeurde kopvel te verbind.

“Ek wonder ook waar my (moontlik oordrewe) morele kompas lê en of ek dalk goeie bemarking of werksgeleenthede met my eie outydse waardes verwar.”

Ek stap toe oor na die ander twee ouens om te sien of hulle dalk ‘n pleistertjie of verband nodig het. Gelukkig darem nie. Daar wikkel so ‘n perdjie rond wat oënskynlik in beheer is van dinge en wat reeds die arme twee ouens se persoonlike items in besit geneem het met ‘n belofte om dit weer aan hulle te besorg as hulle eers iewers opgeneem is. Hy ís wat ons goediglik na verwys as, ‘n aasvoël. Sy toutrok staan dwars oor die pad geparkeer en hy is tjomme met al die SAPS en Metrolede wat daar opdaag.

Ek hoor hoe hy vir die arme geskokte en in pyn beseerdes verduidelik hoe hulle oor niks hoef te “worry” nie want sy vrou sal sommer hulle help met die versekeringseise en alles en nog wat.

Ek kry so stilletjies die een beseerde se selfoonnommer om hom te waarsku hoe mense dikwels uitgelewer word aan hierdie elemente veral wat derdeparty-eise betref. Voor ek nog kan noem dat ek ook ‘n prokureur is wat derdeparty-eise doen sluip daar so dik outjie nader en glip ‘n visitekaartjie in die een ou sy hand. Hy sê hy is van die prokureurs oorkant die straat en hy sal hulle help met ‘n derdeparty-eis.

Ek wonder toe of ek my kans verspeel het om ‘n eis te werf terwyl ek eerder ‘n skaduwee met my lyf gooi oor die ou wat in die warm son op sy rug in die pad lê. Ek wonder ook waar my (moontlik oordrewe) morele kompas lê en of ek dalk goeie bemarking of werksgeleenthede met my eie outydse waardes verwar. Tye het mos verander.

Wie sal weet…

Leave A Reply