President Macron van Frankryk se gewildheid het onlangs baie afgeneem nadat sy regering die aftree-ouderdom vir Fransmanne van twee-en-sestig na vier-en-sestig opgeskuif het.
Sy besluit het uitgebreide stakings tot gevolg gehad omdat dit volgens die Franse lynreg indruis teen hulle bekende joie de vivre leefstyl. Geniet die lewe, impliseer by uitstek dat jy nie moet leef om te werk nie, maar eerder werk om te kan leef, en met leef bedoelende die lewe voluit te geniet.
“Ek het seker darem genoeg ondervinding om nog vir jare van waarde vir ‘n regspraktyk te wees. “
Om in hierdie dae drie-en-sestig te word het gewoonlik nie besondere betekenis nie, maar met Macron se wetgewing wat juis hierdie September in werking tree sou ek nog onder die gelukkiges gewees het wat laasjaar al kon aftree. Dit voorveronderstel seker dat ek ‘n lekker pos in ‘n staatsdepartement sou beklee het of dalk by ‘n groot maatskappy wat inval by die gereguleerde aftree-ouderdom.
Ek weet nie wat prokureurs in Frankryk doen met aftrede nie en of hulle, hulleself uit die praktyk rangeer op ‘n sekere ouderdom sodat hulle selfs nog meer vrye tyd kan hê om hulle lewens te geniet nie. Hier by ons, wil ek argumenteer, is dit ‘n perd van ‘n ander kleur. Regslui meen dat hulle juis ná sestig op hulle beste is en nog baie het om in die werksplek te bied. Regters hier hoef eers op sewentig af te tree, seker van weë die feit dat die ondervinding wat hulle oor jare opgedoen het goeie aanwending behoort te vind in wél deurdagte uitsprake.
Regters werk ongelukkig ook baie hard en sit lang ure en opleeswerk doen om voorbereid vir sake te wees en om uitsprake te skryf. Altans so is dit veronderstel om te wees. By implikasie word hardwerkende senior mense in ons professie híér dus beroof van ‘n lewenstyl soos wat die geval is in Frankryk.
Die goue middeweg behoort eerder te wees om ‘n balans te vind tussen werk aan die een kant en die lewe bloot te geniet, aan die ander kant. Werk mag wel tot ‘n mate bevredigend of lekker wees, maar is dood eenvoudig nie dít wat die Franse met ‘geniet die lewe’ bedoel nie.
En dit is waar ek my nou bevind. Ek het seker darem genoeg ondervinding om nog vir jare van waarde vir ‘n regspraktyk te wees. Ek gaan DV eers volgende jaar Macron se nuwe aftree-ouderdom bereik en die jaar daarna ons land s’n. Daarna is dit ‘n verdere vyf jaar tot by ons regters se aftree-ouderdom.
“Jy [kan] nog altyd weer kan geld maak of werk en verdien, maar tyd wat verby is kan jy nie terugkoop nie.”
Ek lees in die week van ‘n sjirurg in die Kaap wat nou op nege-en-tagtig besluit het om die skalpel neer te lê. Hy is gelukkig nog gesond en ek weet nie wat hy beplan om met die res van sy lewe te doen nie (hoeveel daarvan oor is weet ons nie). Die Franse sou seer sekerlik niks van so prestasie gedink het nie. Uitskieters van sulke formaat verdien daar geen eervolle vermelding nie. Inteendeel druis sulke werksywer juis teen hulle lewensbeskouing in.
Ons goeie vriend in Australië het jare gelede vir my gesê dat jy nog altyd weer kan geld maak of werk en verdien, maar tyd wat verby is kan jy nie terugkoop nie. Só dikwels werk mense hulle lewe lank kliphard sonder om tyd te maak vir die joie de vivre om eendag as hulle oud is dit te probeer inhaal. Die ouderdom bied egter geen waarborge van gesondheid of geleenthede om sulke lang verwagte genietinge te beleef nie.
Die tyd daarvoor is nóú. Moontlik met ‘n paar voorwaardes, soos om nie roekeloos met die lewe om te gaan nie en om darem binne jou finansiële beperkinge die lewe ten volle te geniet.
So ek gaan nie aftree nie. Al kon ek al laasjaar as ek in Frankryk gewoon het óf dalk oor twee jaar as ek hier bly, óf oor sewe jaar as ek ‘n regter sou word (darem onwaarskynlik vir verskeie redes). Wat egter vasstaan is dat ek seker sal maak dat ek ten minste altyd ‘n bespreking in die wildtuin het en besig is met beplanning na een of ander bestemming of aan die oplees is oor iets wat ek gaan doen.
DIt dikwels terwyl ek agter my kantoor se lessenaar sit met die gewone gedruis in die agtergrond van ‘n dag-tot-dag regspraktyk.

1 Comment
Helouise Venter
October 17, 2023 - 6:35 amWaarheid! Ons verloor dikwels fokus as gevolg van te hard werk en verloor kosbare tye met familie en vriende. Doen lekker dinge en bly werk. Dit is goed vir fisiese en psigiese welland.