En daar gebeur dit toe weer. Ek laat lê vir ‘n tweede keer my selfoon iewers met ons vertrek op ‘n vakansie.
Die vorige keer was dit in die Slow Lounge op ORT. Ek het met ‘n gevoel van magteloosheid begin rondtas na my rugsakkie en toe daarna my broeksakke ‘n tweede en ‘n derde keer deursoek. Die outjie in die lounge antwoord gelukkig my foon toe ons my nommer bel net voor ons opstyg, en belowe om dit daar te hou tot Cassie dit die volgende dag sou kom optel.
Hierdie keer het ek dit sommer net op die herlaaier op my bedkassie vergeet in die die harwar van ‘n vroeë vertrek en geskeduleerde bymekaarkoms met die groepie.
Ek het gesukkel om te detoks van digitale afhanklikheid in ‘n digitale wêreld van ‘connectivity’ soos wat die selfoonmaatskappye hulleself bemark.
In nabetragting kon ek seker maar omgedraai het en dan sou ons nog met gemak die groep by Vaalwater opgevang het waar hulle ontbyt genuttig het. Maar ons hou nie van laatkom nie en Beatrice het my oortuig dat ek werklik kon doen vir ‘n paar dae sonder ‘n foontjie wat aan my stert vasgesweis is.
Sy het nogal ‘n punt beet.

Die eerste ding wat ek doen as ek wakker word in die oggend en my bril opgesit het, is om na my selfoon te gryp. Dikwels nog in die donkerte terwyl Beatrice nog ‘n laaste paar minute in droomland spandeer. Ek kyk dan heel eerste op my Garmin app hoe ek geslaap het (asof ek nie reeds weet nie) en direk daarna wat daar in die wêreld aan die gebeure is op News24 se app. Daarna vul ek die plaaslike nuus aan met ‘n soek op CNN vir wat buite die landsgrense gebeur en dan kyk ek of iemand iets op WhatsApp te sê het. Dan loer ek wat die weer gaan inhou en laastens op my Sunsynk app hoe die batterykrag by die huis en by die kantoor lyk.
Nogal heelwat digitale inligting voor die son nog op is…
Gelukkig het ek nie meer Facebook of Instagram nie anders was my selfoon se battery dalk reeds halfpad pap nog voor ek ‘n voet uit die bed uitgesit het.
Jy tas nie heeltyd onwillekeurig rond na hierdie ding wat tot ‘n mate jou lewe kom oorneem het nie. En dit is bevrydend.
Jy detoks van nuus.
Jy detoks van weervoorspelling.
Jy detoks van Google.
Jy detoks van Gaza en Ukraïne se oorloë.
Jy detoks van Checkers Sixty60.
Jy detoks van Takealot.
Jy detoks van politici se uitsprake op allerhande digitale platforms.
Jy detoks van Wine Cellar specials.
Jy detoks van SARS en FICA en ook van bankstate.
Jy detoks van Martin Bester se Jacaranda FM.
Jy detoks van die ellelange kennisgewings van die LPC.
Jy detoks veral van Justisie se pogings om die prosesse by die hof digitaal aanvaarbaar te kry.
Jy detoks selfs van kleinkinders se sportprestasies en skoolrapporte op WhatsApp groepies.
As jou skokbrekers se ‘bracket’ breek of jy vassit in dik sand kan jy nie gou Google om te sien wat jy moet doen nie. Nee, jy maak ‘n plan of jy vra ‘n vriend wat se plan hy kan uitdink om uit die penarie te kom. Jy hoef ook nie noodwendig ‘n kitsoplossing te vind nie. As dinge nie uitwerk soos die agenda bepaal nie, bied dit dalk selfs ‘n geleentheid om iets anders te beleef wat nie op die fyn beplande (voorheen digitale) agenda was nie.
Hoe verder ons reis hoe minder mis ek toe my foon.
Ek vermoed dat my ‘screen time notification’ teen ons aankoms by Kasane gewonder het of die eienaar van die foon dalk poer des merdes is.
Intussen was hy egter salig aan die rus iewers ‘n duisend myl weg en so digitaal gedetoks dat hy skoon vergeet het om te vra wie die minister van Justisie geword het.
En op die ou einde maak dit #FF* saak wie in die digitale wêreld een of ander nuwe pos beklee terwyl jy verlos van digitale impulse Afrika se bos beleef nie.
*privaat reisgrappie
