Sy bestuur ‘n afdeling, en het soos gewoonlik oortyd gewerk.
Die laaste persoon wat voor haar die gebou verlaat het, was Elias die nagskoonmaker. Hulle twee is dikwels die laastes om die gebou te verlaat.
Elias kom maak altyd ‘n draai en verneem of sy ok is, voordat hy hoflik groet, soos dit die tyd waarin hulle leef betaam.
Dit is iewers in Januarie en die laaste lig verdwyn terwyl sy ooswaarts stap in Kerkstraat, om die bus op Kerkplein huis toe te haal.
Hulle woon in Mayville en die busrit gee haar net mooi genoeg tyd om die Dagbreek deur te lees, waarvoor sy die dag nie tyd gehad het nie.
Sy lees van die opstand in Durban waar daar nege polisiemanne dood is. Dit gaan oor die gewraakte paswette.
As Tant Anna in 2014 geleef het sou sy iets kwytgeraak het, soos dat die engelsman sou sê, “some things never change”.
Sy lees ook ‘n berig oor die gevreesde Pangaman, wat al weer toegeslaan het. Hy vermoor vryers wat saans hulle motors teen Klapperkop se randjie parkeer, terwyl hulle nie net deur die stad se liggies betower word nie.
Sy wonder wanneer die polisie ooit hierdie skurk aan die kaak gaan stel, en wat die jaar nog gaan oplewer.
Haar roetine-bestaan sorg in Februarie vir ‘n taamlike skrik toe sy weer een aand in die bus haar Dagbreek oopslaan. Sy lees van die Pondoland-opstande.
Dis waar sy ‘n klompie jare gelede nog skoolgehou het.
Sy wonder of die Kretshmans en die Lindemans vir wie sy skoolgehou het, en vir wie sy lief geword het, veilig is.
Die maande wat volg sorg vir heelwat berigte wat Tant Anna tot kommer stem.
Maartmaand is al die koerante vol van die polisieman, Nick Arlow. Tant Anna-hulle sou later bure van Nick se broer Theuns word, toe hulle in Sinoville intrek. Nick en sy kollega het nou terreg gestaan op ‘n aanklag van moord, nadat hulle ‘n swartman doodgeskiet het, wat hulle vir die Pangaman aangesien het.
Op 18 Maart word hulle skuldig bevind, ten spyte van die publiek se simpatieke gevoelens.
As Tant Anna in 2014 geleef het sou sy iets kwytgeraak het, soos dat die engelsman sou sê, “some things never change”.

Die dag na 21 Maart lees sy van die nege-en-sestig swartes wat in Sharpville deur die polisie doodgeskiet is. ‘n Paar weke later lees sy dat die ANC en PAC verban is.
Sy lees ook van Mirriam Makeba wat landuit is (om later voor die Verenigde Nasies te betoog vir sanksies teen Suid Afrika).
‘n Dag na die verbanning skrik Tant Anna groot toe sy haar Dagbreek oopslaan. Daar is ‘n groot foto van Dr Verwoerd op die voorblad. Een of ander mal mens het hom by die Johannesburg se Paasskou geskiet. Hy sou dit oorleef maar nie die poging ‘n paar jaar later, toe ene Tsavendas hom in die parlement met ‘n mes bygedam het nie.
In Junie berig die Dagbreek dat swart parlementêre-verteenwoordiging beëindig is.
Dis nou donker in die aande as sy van AVBOB af na Kerkplein toe stap.
Sy kry een aand so effense kriewelrigheid toe sy saam met Elias uitstap, en hy vir haar sê om maar versigtig te wees.
Sy lees dat die Pangaman nog twee mense vermoor het. Hulle stukkend gekapte liggame, is deur ‘n vroegoggend drawwer ontdek.
Die volgende paar maande gebeur daar nie veel in Tant Anna se lewe nie.
Tot en met 28 September wat haar eerste kleinkind gebore word.
Sy neem ‘n paar dae verlof en lees nie koerant nie. Sy help met die kleinseun en met die huistakies wat ‘n nuwe toevoeging tot ‘n gesin verg. Sy bak beskuit en maak lewerkoekies en ander van haar gunsteling disse.

Die sesde Oktober is sy weer terug by die werk.
Die vorige dag was dit referendum. Net blankes het gestem.
52% van die stemgeregtigdes het gestem vir ‘n republiek. Die land sou ‘n republiek word op 31 Mei van die volgende jaar.
Tant Anna kon op daardie stadium nie geweet het dat Dr Donges, wat aangewys sou word as eerste staatspresident, weens mediese redes nooit die pos kon beklee nie.
Sy sou verbaas gewees het die Blackie Swart, of ou Doempie soos hulle hom geken het, die posisie sou inneem.
Ou Doempie was saam met haar man op skool, en is gereeld deur haar mannetjie (soos sy hom noem) op akademiese gebied uitgestof.
Hulle sou vir jare daarna nog elke jaar ‘n persoonlike kerskaartjie van die presidensie af ontvang.
‘n Paar dae later merk Tant Anna op dat Elias nie haar vullisdrommetjie kom leegmaak het nie. Dis nogal vreemd dink sy terwyl sy op die laataandbus klim.
‘n Berig op die Dagbreek se voorblad trek haar aandag. ‘n Swartman is gearresteer wat vermoedelik aan die Pangaman-moorde gekoppel word.
‘n Vreemde gewaarwording tref Tant Anna toe dit in die daaropvolgende dae blyk, dat die Pangaman Elias Xitavhudzi is, wat al die jare saammet haar by AVBOB gewerk het.
‘n Vermoeiende 1960 vir Tant Anna, kom tot ‘n einde kort nadat Elias Xitavhudzi, oftewel die Pangaman, op 14 November 1960 terreggestel is vir die moorde op sestien mense.
Ns. Tant Anna Fourie was my ouma.
