Parkering naby die hof, is op sy heel beste ʼn vet gemors.
Tans is dit in elk geval glad nie nie op sy heel beste nie. Met die veranderinge aan die paaie om voorsiening te maak vir ʼn vinnige buslaan (dalk eerder taxilaan), is daar letterlik nie ʼn parkeerplek binne ʼn kilometer radius van die af hof nie.
Ons ouens wat in die omgewing parkeer, is uitgelewer aan lapswaaiers. Hulle maak ʼn bestaan deur lap te swaai en parkering aan te wys. Hulle is ook kamtig karwagte. Jy kan kies om met hulle saam te werk of nie.
My klerk verkies om nie van hulle dienste gebruik te maak nie en het al ʼn bloutjie geloop met inbrake in sy motor. Hoe betroubaar hulle as wagte is, kan ek nie oor getuig nie.
Ek het gekies om aan hulle kant te wees. Ek redeneer dat ek in elk geval sou betaal vir parkering as ek in ʼn parkade sou parkeer en in ʼn mate help ek om ʼn huishouding aan die gang te hou.
Hulle is die sypaadjies se baas.
Ek “tip” hulle meestal baie ruim maar dit het sy eie nadele. Die van hulle wat my ken, draai dikwels op die rand van ʼn vuisgeveg om mee te ding vir my oppas-dienste. Die ouens wat soos ek maak, groet later ʼn hele span lapswaaiers wat dink dat hulle jou beste vriend is.
ʼn Kollega van my het betaal vir die opleiding van so ʼn karwag om ʼn rybewys te bekom.
Ekself het al twee lapswaaiers se selfoon-nommers op my foon gehad. Ek kon bel in die oggend oppad hof toe en dan maak hulle vir my plek. Hulle is die sypaadjies se baas.
Die een was ʼn belese mannetjie met matriek wat van Bosbokrand af gekom het. Hy was ʼn netjiese seun wat nie werk kon kry nie. Met ʼn geluk het ek by ʼn vriendin vir hom werk gekry.
Ek bel hom toe ek reël om hom op te laai vir die onderhoud. Oppad soontoe stop ek hom ʼn paar buffelnote in die hand. Hy moes darem ʼn “fair chance” kry en ek het gedink hy sou so twee stelle klere kon koop om aanvaarbaar te lyk.
Hy word toe aangestel om groentetrokke te laai, en om die vrag te kontroleer. So paar weke later, parkeer ek weer een oggend naby die hof, en wie sien ek daar? Die einste hy.
Ek is bitter teleurgestel, toe hy my meedeel dat hy die werk gelos het. Sy kans in die lewe het hy vermors. Ek begin hom sommer dadelik uittrap.
Sy geldige verskoning was dat hy nie vir my wou sê nie, maar dat hy VIGS het en nie die fisiese uitdagings van die werk kon volhou nie. Hy het op ʼn dag net nie weer terug gekom nie.
Hy het maar seker uit die mag van die gewoonte werk toe gekom.
‘n Paar dae later merk Tant Aubrey, die ander outjie op my adreslys, het ook verdwyn. Waarheen weet ek nie. Een van sy kollegas wou op ʼn dag by my geld hê om vir Aubrey te vat. Hy het beweer dat Aubrey in die hospitaal was nadat ʼn bus hom glo raakgery het.
Toe ek die volgende keer ʼn ander lapswaaier uitvra, het hy ʼn heel ander storie.
Nog ʼn ander ou, swaai al regtig lank lap. Ek parkeer nie meer so dikwels in sy sone nie. Elkeen het ʼn spesifieke area wat hy bedien en waaroor hy jaloers waak.
Hy groet my altyd as hy my sien, al is ek ook aan die anderkant van die straat, met ʼn “More Basie”. Dis effens van ʼn verleentheid in die nuwe Suid-Afrika, maar nog meer wanneer ek hom so af en toe ʼn paar rand gee, al het hy nie na my motor omgesien nie. Dan vereer hy my soos asof ek sy stamhoof is met ʼn buiging en ʼn “Dankie my Kroon”.
Hy het vir die laaste paar maande glad nie ʼn area waar daar parkering bestaan nie. Ek weet ook nie vir hoeveel maande hy steeds nie kliënte gaan hê vir wie hy kan opswaai nie.
Ek sien hom gister op pad hof toe. Hy drentel maar daar rond, waar hy altyd opswaai. Hy het maar seker uit die mag van die gewoonte werk toe gekom.
Hy het net sy lap by die huis gelos.

