Tot en met Charlie Kirk se dood het ek nie van sy bestaan geweet nie. Ek is al lankal nie meer op sosiale media nie en volg nie een of ander ‘influencer’ op ‘n ander digitale platform nie.

Ek beskou myself darem as ingelig wat plaaslike en internasionale nuus betref. Voor ek in die oggend my voete uit die bed sit het ek reeds Netwerk 24, Die Burger en BBC se berigte oor wat om ons aangaan gelees. Ten spyte hiervan het ek nie van Charlie Kirk geweet nie.

My kinders wou natuurlik dadelik weet hoekom ek nie van Kirk weet nie want almal van hulle het Kirk gevolg. As jy egter nie ‘n TikTok of X of Instagram of Facebook rekening het nie, weet jy nie noodwendig van al hierdie persone wat gevolg word deur derduisende mense nie.

Sosiale media jaag gemoedere op om eerder die ou te haat wat van jou verskil as om jou eie beginsels na te jaag en andere deur goeie debat te oortuig.

Skielik was Charlie Kirk op almal se lippe, nie nét wat sy volgers betref nie maar ook mense soos ek wat hom glad nie geken het of eers van hom geweet het nie.

My oudste neef wat deeltyds in Amerika woon skryf kort na hierdie gebeure vir sy kleinkinders, wat ook daar woon, ‘n aangrypende brief. Hy probeer aan hulle rigting bied in die deurmekaar tye waarin ons, onsself tans bevind. Waar iemand doodgemaak word bloot omdat iemand anders van sy argumente en beskouinge verskil. Dié iemand anders wat nie eers die persoon ken nie maar hom self laat beïnvloed deur goed wat op sosiale media kwytgeraak word. Martin Bester sê vanoggend op JacarandaFM dat sosiale media besig is om ons te vernietig. Daar steek iets van die waarheid daarin

My neef stel aan sy kleinkinders dat ‘n soldaat nie behoort te veg omdat hy haat wat voor hom is nie maar eerder omdat hy liefhet wat agter hom is. Die wêreld is nou onderstebo. Sosiale media jaag gemoedere op om eerder die ou te haat wat van jou verskil as om jou eie beginsels na te jaag en andere deur goeie debat te oortuig. Met die gevolg dat mense eerder verkies om te swyg as die risiko te loop om stil gemaak te word.

Demokrasie se basis is debat. Soms hewige debat maar nooit geweld om jou sin te kry nie.

Dit het veiliger geword om stil te bly eerder as om te praat, en veiliger om saam te stem eerder as om te vrae te vra. Kyk maar wat gebeur met fluitjie blasers hier by ons.

In die middeleeue is mense ge-teer-en-veer soortgelyk aan vandag se ‘lynching’ of bundu-howe. Dit is wanneer lede van die gemeenskap hulle die (on)reg toeëien om iemand te veroordeel en dan te straf sonder dat ‘n regstelsel deel van die proses was. Dikwels geskied dit op blote gerugte en sonder dat die ‘kwaaddoener geleentheid kry om hom te verontskuldig. Hier by ons was die ‘necklace’ moorde in die negentigs aan die orde van die dag.

Demokrasie se basis is debat. Soms hewige debat maar nooit geweld om jou sin te kry nie.

Of Charlie Kirk se beginsels en argumente reg of verkeerd was behoort nie saak te maak nie. Waaroor hy wel onteenseglik reg was, is dat die pad na die waarheid deur debat loop en nie deur met geweld ander tot jou insig te probeer dwing nie.

Hy is die slagoffer van nie eers die rég nie, maar eerder die ónreg in eie hande te neem. Wanneer ‘n stem stil gemaak word omdat dit van iemand se beskouinge of geloof verskil, loop demokrasie die risiko om ten gronde te gaan. En dan sal die Reg nie eers ‘n uitkoms bied nie.

Leave A Reply