Eerskomende Sondag is dit alweer net elf maande na Kersfees toe. Die jaar is weer dag vir dag besig om sy roetine te vind waarin ons sonder genade meegesleur word.

Die oujaar het vir ons met gemengde gevoelens afgesluit. Kort voor ons moes vertrek Mosambiek toe word my ryding gesteel, nogal agter ‘n skuifhek reg langs ons kantoor. Om sout in my wonde te vryf was my wallet met al my kaarte en bestuurslisensie in die kar netjies onder ‘n mooi Stetson kêps versteek. My vrou het die kêps ‘n jaar gelede vir my in Frankryk gekoop toe ek daar verjaar het.

My hoede is my vriende en elkeen het ‘n spesifieke rol wat hulle op die baas se kop vervul. Die hoedjie is seker vervangbaar maar die sentiment van die aankoop kan nie vervang word nie. Ek weet dit uit dure ondervinding toe ek met ‘n vorige reis my Andy Capp hoedjie in Ierland in die huurkar vergeet het. My neef hulle het later die jaar vir my ‘n soortgelyke een gebring maar dis nie dieselfde nie. Ek het die verlore een in Galway gekoop, een besondere aand terwyl ek en my vrou deur die strate gedrentel het.

My hoede is my vriende en elkeen het ‘n spesifieke rol wat hulle op die baas se kop vervul.

So is ons toe darem weg met een van die dogters se Prado wat hulle goedgunstiglik vir ons geleen het. Ek kon te midde van die krisis en kort tydjie beskikbaar voor ons vertrek ervaar dat dinge plek-plek nog werk. My tydelike lisensie is by die RMTC in Centurion binne vyftien minute uitgereik.

Terwyl ons heerlik vakansie hou het ons slegte tyding ontvang van ‘n jongman in die familie se dood. Amper dieselfde tyd is ‘n baba gebore vir goeie vriende van ons se kind, niemand anders as die tegniese versorger van ons webblad en sosiale media nie. Weereens geluk Stéfan. Ook in hierdie tyd het twee van my vriende oornag finansiële voorspoed gevind.

Ons het die beste weer ooit beleef pas voor die oorstromings in Limpopo en toe Mosambiek getref het. Die paaie wat ons ‘n week of twee gelede nog gery het is tans onbegaanbaar en sal ook so wees vir die afsienbare toekoms. So het dinge dag vir dag varander.

Ons lewenspaaie is onvoorspelbaar en dit maak nie saak of dit die einde van ‘n jaar of die begin van ‘n nuwe jaar is nie.

Terug by die huis het ek weer ‘n ryding danksy my goeie versekeraar, SANTAM, met my bekwame makelaar se insette.

Ons het ‘n nuwe graad eentjie kleinkind in dieselfde skool waar ek in 1967 ‘n graad een was. Daar is ‘n paar kleinkinders in die atletiekspan maar ook ‘n paar wat nie die paal gehaal het nie. By die huissport geleentheid gesels ons met een van ons dogters se skoonpa en skoonma.Skoonpa is op die hartoorplantingslys en ons praat oor die volgende Desember waar almal beplan om weer Mosambiek toe te gaan. Hy reken hy dink nie hulle sal gaan nie, want benewens die hondjie wat versorg moet word, moet hy binne ‘n uur se ry vanaf die naaste oorplantingsentrum wees, vir die moontlikheid dat ‘n skenkerhart beskikbaar raak.

Hierdie atletiekbyeenkoms was laas Donderdag. Dinsdagoggend bel my dogter en sê haar skoonpa-hulle is op pad Millpark hospitaal toe. Daar het ‘n skenkerhart beskikbaar geraak. Die hart is dieselfde dag nog op hom oorgeplant.

Hy herstel nog maar sy lewe het oornag ingrypend verander, so ook sy familie s’n.

Ons lewenspaaie is onvoorspelbaar en dit maak nie saak of dit die einde van ‘n jaar of die begin van ‘n nuwe jaar is nie.

Ons moet dit net dag vir dag vat.

Leave A Reply