Ons firma verdien ons daaglikse brood in ‘n groot mate uit bloed. Amper letterlik.

‘n Groot deel van ons praktyk bestaan uit sogenaamde derdeparty-eise oftewel Padongelukkefonds eise. Hierdie instansie wat by wyse van wet opdrag het om eise te administreer, is tans daagliks in die nuus na aanleiding van die Parlementêre ondersoek wat gevolg het op die onlangse skorsing van die Hoof uitvoerende Beampte van die RAF (soos dit in die volksmond bekend staan) en ook die daaropvolgende ontslag van die hele direksie.

Vir ‘n derdeparty-eis om te bestaan moes iemand in ‘n motorongeluk beseer wees en gevolglik van daar die verwysing na bloed.

Volgens die kennisgewingbord… skenk slegs een persent van die bevolking bloed.

SANBS is aan die anderkant die instansie wat regtig net met bloed werk. Dit is waar jy bloed bekom indien jy dit benodig na ‘n besering in ‘n motorongeluk of vir ander mediese behoeftes.

SANBS verwys graag na bloed skenk as die ‘gawe van lewe’. Deur een eenheid bloed te skenk kan jy potensieel drie lewens red. ‘n Eenheid bloed is 480 ml (of ‘n outydse pint soos in die dae wat my pa en ma nog geskenk het).

Die drie komponente van lewegewende bloed is rooibloedselle, plaatjies en plasma wat onderskeidelik elk ‘n eie doel dien. Die O-groep is die algemeenste bloedgroep waarvan O-negatief universeel is daarin dat dit vir al die ander groepe geskenk kan word. Die raarste bloedgroep is RH null. Daar is net omtrent vyftig mense in die wêreld met dit. Hierdie bloedgroep het geen van die antigene wat maak dat ‘n ander bloedgroep se bloed verwerp word deur die liggaam nie.

Volgens die kennisgewingbord by die Hatfield tak waar ek weer onlangs was, skenk slegs een persent van die bevolking bloed. Die vorige jaar se statistieke van SANBS vermeld dat hulle poog om 3500 eenhede per dag in te kry. Bloed kan net vir twee-en-veertig dae gestoor word. Dit help gevolglik nie om dit op te gaar vir die feesseisoen se groter behoefte nie.

Ek lees van ‘n man wat al twee-honderd-en-vyftig eenhede geskenk het. Prakties gesproke het hy potensieel al sewe-honderd-en-vyftig lewens gered.

In die vroeëre tye het kwaksalwers mense vir bloedlaat prosedures verwys om vele skete te behandel sonder om werklik die waarde daarvan te besef. Die liggaam herstel betreklik vinnig die bloed vlakke na ‘n skenking.

Moontlike verhoogde yster vlakke word op ‘n natuurlike wyse binne perke gebring. Sulke verhoogde vlakke is uiters nadelig en die rede waarom ek ook destyds begin bloed skenk het.

Ek kon nou pas eers my ouderdom se getal in skenkings haal. Ek lees van ‘n man wat al twee-honderd-en-vyftig eenhede geskenk het. Prakties gesproke het hy potensieel al sewe-honderd-en-vyftig lewens gered.

Dit is elke jaar ‘n groot gespook en spartel in ons familie om Kersgeskenke te kies en uitgedeel te kry. Geskenke wat dikwels nie noodwendig byval vind nie en iewers op ‘n rak of in ‘n kas beland.

Dalk is hierdie jaar die eerste keer wat jy kans sien om die SANBS se ‘Geskenk van die Lewe’ te gee. Die langste, maar onwaarskynlike tyd wat dit op ‘n rak sal spandeer is twee-en-veertig dae. Die kans is egter baie groter dat jou Kersgeskenk hierdie jaar dalk drie lewens gaan red.

Maak ‘n draai by een van die baie SANBS fasiliteite en skenk net een eenheid bloed. Dalk verander dit jou denke en jy word een van die een persent skenkers groep.

Ry veilig en verhoed so dat jy dalk self afhanklik word van daardie een persent van die bevolking wat reeds hulle geskenk vir drie ander gegee het.

Leave A Reply