Om ‘n myl te swem is nie regtig ver nie. Dit is in metrieke terme maar 1600 meter. Vir regte swemmers wat kompeterend swem nie veel van ‘n uitdaging nie. As jy ’n gemiddelde drawwer is (of was) vergelyk dit min of meer met ‘n tien kilometer stywe draf op die pad.

Die Midmar myl is egter op ‘n ander vlak uniek. Dit het sy oorsprong te danke aan ‘n paar swemmers wat in 1973 by Midmar geoefen het vir ‘n ander oop-water-swem en toe op die gedagte afgekom het om dit ‘n amptelike swem te maak. Die volgende jaar, 1974, was toe die eerste sogenaamde Midmar myl met 153 deelnemers.

Vandaar af het dit eksponensieel gegroei tot ‘n gerekende datum op die internasionale swem-kalender. Dit is deur die Guiness Book of Records erken as die grootste oop-water swem toe daar in 2009, 13755 deelnemers was.

Daar is, weens die volume deelnemers, agt kategorieë items wat oor twee dae beslis word en dit vind jaarliks plaas op die tweede naweek van Februarie. Die swemmers spring in groepe weg wat verskillende kleure swempette dra, om die beoordeling te vergemaklik. Dit help ook dat die wasmasjien-effek van die wegspring ietwat verminder word.

Daar is mos nie bane soos in ‘n swembad nie en elkeen probeer so gou as moontlik sy eie lyn vind sonder om heeltyd in die ou voor jou se skoppende voete en swaaiende arms vas te swem. Daar is swemmers wat net kop neersit en laat waai, sonder om enigsins om te gee hoe skeef hulle swem. Hulle swem dan in ander vas, net om vinnig op te kyk en dan weer op nuut ‘n nuwe rigting in te slaan.

Om ‘n myl te swem is nie regtig ver nie… Die Midmar myl is egter op ‘n ander vlak uniek.

My eerste ontmoeting met die Midmar was toe ons vriend ‘n artikel in die Rooi Rose (nogal) raak gelees het. Dit was net so voor Augustus 2000. Die jaar 2000 was ook die jaar wat ons ou vennootskap ontbind het en ek vir my eie rekening begin praktiseer het.

Die artikel het ‘n hele oefen program uiteengesit vir mense wat vir die eerste keer ‘n Midmar wil swem. Sy ‘dare’ aan my en ‘n ander vriend was dat ons die program moet volg en dan in 2001 die Midmar swem. Ons het op daardie stadium by Planet Fitness geoefen waar daar ‘n kort swembad was. Ek het kort voor dit ‘n Achilles tendon geskeur met ‘n muurbal ‘game’ en swem het na ‘n goeie alternatief gelyk.

Ek het nooit op skool aan swem deelgeneem nie maar was nog altyd lief vir die water. Ons het met ‘n swembad groot geword waar daar gereeld resies geswem was. So die Midmar was ‘n logies keuse vir iemand wat nie meer veronderstel was om muurbal te speel of te draf nie.

Ons het fluks by die Rooi Rose se program gehou en was nogal selfvoldaan met ons tye tot ons telleurgesteld agter gekom het dat die swembad net 20m in stede van die standaard 25m kortbad is.

Voor die 2026 Midmar het daar nog net 271 deelnemers permanente nommers gekry.

Toe ons die volgende jaar aantree vir ons eerste Midmar het Mike Pengelly aangetree vir sy sewe-en-twintigste Midmar. Hy is die enigste swemmer wat nog al die Midmar myle geswem het. Hy het hierdie jaar sy drie-en-vyftigste een geswem en dit voltooi in net so oor die sewe-en-vyftig minute. Die afsnytyd is sestig minute. Dit is onwaarskynlik dat sy rekord ooit oortref sal word.

Pengelly se permanente nommer is 2. Jy ontvang ‘n permanente nommer na jy vir 25 jaar Midmar myle geswem het. Voor die 2026 Midmar het daar nog net 271 deelnemers permanente nommers gekry. Die verdere voordeel van ‘n permanente nommer is dat jy vorentoe nie weer inskrywingsgeld hoef te betaal nie.

Die vinnigste tyd ooit vir die Midmar is behaal deur Chad Ho in sewentien minute, op die kop. Dit is vir die gewone swemmer asemrowend as jy in ag neem dat die afsnytyd sestig minute is. Die grootste gros swemmers klim waarskynlik eers na veertig minute uit die water.

Daar is gereeld bekende swemmers wat internasionaal deelneem aan die Olimpiese spele of die Ysterman by die Midmar. Ook bekendes soos Prinses Charlene van Monaco wat die beskermheer van een of ander ‘charity’ is.

Aanvanklik was dit as ‘n uitdaging gedoen. Later was dit om my tye te verbeter. Toe het dit ‘n lewenstyl geword.

Ek het hierdie jaar my vyf-en-twintigste een geswem. Mense vra dikwels hoekom ek dit doen. Aanvanklik was dit as ‘n uitdaging gedoen. Later was dit om my tye te verbeter. Toe het dit ‘n lewenstyl geword. Dit het ‘n motivering geword om na die Desember-vakansie se kuier weer skouer aan die wiel te sit om die ooreet vetjies weg te werk. Dit sorg ook vir goeie lewenskwaliteit as ‘n mens ietwat fikser is as die ou van jou portuur langs jou.

Die laaste paar jaar was dit ‘n fokus om ‘n permanente nommer te kry. Om deel te word van ‘n eksklusiewe klub waarvan jy net ‘n lid kan word met toewyding en waar jy nie jou toegang kan koop nie.

Daar is ‘n groot mate van genade om daar uit te kom. Ek het dit besef toe ek so vier jaar gelede in Januarie Covid-19 opdoen. Ek was lekker fiks en reg vir Midmar maar helaas. Ons het wel saamgegaan en ek moes vir hierdie keer saam met die sogenaamde Oewerspan op die wal onder die gazebo sit en toekyk. Die Oewerspan synde die wederhelftes en ander vriende of familie wat elke jaar saam rits, sorg altyd vir genoeg pannekoek en ‘n koue bier om die swemmers te verwelkom as hulle een-een met ‘n medalje om die nek uit die water kom.

Ons swemmers eis graag die eer op vir wat ons bereik maar ‘n groot deel kom die organiseerders en werkers agter die skerms toe. Mense soos Glynis wat jaar vir jaar sorg dat die dag seepglad verloop.

Ek is lankal nie meer ‘opgecharge’ met die wegspring nie. Hierdie jaar was dit effens anders. Niks moes verkeerd gaan nie.

Toe my 25ste swem nader kom merk ek in die nuusbrief op dat daar drie jare makeer. Hulle publiseer elke jaar die name van almal wat twintig of meer geswem het. Met eposse heen en weer wys Glynis my die jare uit wat ontbreek. Die fout het ingesluit by die inskrywings waar ek soms Adriaan of At of Adriaan Sarel was. Met ‘n bietjie delf in ou foto-albums kon ons al die ontbrekende inskrywings nommers kry en was die verligting groot toe Glynis my laat weet dat 2026 my 25ste swem sou wees.

Ek is lankal nie meer ‘opgecharge’ met die wegspring nie. Hierdie jaar was dit effens anders. Niks moes verkeerd gaan nie. Die dag kon egter nie méér perfek gewees het nie. Daar was geen wind nie en die water was plat. Ons moes al in die verlede teen golwe of dwarswinde veg wat die water in jou keel af waai as jy asemhaal.

Die verligting was groot toe ek onder die banier by die eindpunt deurstap en die Garmin se knoppie druk. Die slim Garmin wys ek het twintig meter verder geswem as ‘n myl.

Dalk omdat ek effens skeef geswem het maar dalk ook omdat ek nie wou hê die oomblik moet verbygaan nie.

 

Leave A Reply