Ons kyk graag TV reekse. Die mees onlangse een, Defending Jacob, gaan oor ‘n seun wat verdink word van ‘n moord op ‘n mede-skolier. Dit eindig met ‘n sogenaamde geregtelike doodsondersoek.

Geregtelike doodsondersoeke vind plaas wanneer iemand sterf anders as aan natuurlike oorsake. ‘n Landdros of Regter sit dan voor en luister na getuienis ten einde te bepaal of iemand vervolg moet word weens ‘n misdryf wat die oorledene se dood tot gevolg het.

Soms lewer hierdie Geregtelike Doodsondersoeke eienaardige resultate op. Een so ‘n voorbeeld het dit in die sestiger jare in ons land afgespeel.

Op Dinsdagoggend, 27 Oktober 1964, stap Robert Bekker al langs die water af. Hy is ‘n jong onderwyser op pad skooltoe.

Hy fluit Roy Orbison se “Pretty Woman”, wat vyfde op die gewildheidslys trek, en dink aan ‘n rolprent wat hy die naweek gekyk het. My Fair Lady met Aubrey Hepburn in die hoofrol. Hierdie rolprent, dink hy, sal nog baie jare gewild bly.

Iets trek sy aandag in die vlak water, iets wat soos ‘n tas lyk.

Dit is dekades voor die Boksburgmeer ook besoedel geraak het, en hy stap geïrriteerd nader om die voorwerp uit die water te haal.

Die Boksburgmeer het sy ontstaan te danke aan ‘n opdrag van Paul Kruger in 1887. Die opdrag was aan die destydse mynkommisaris, Montague White, gerig om ‘n meer of dam te laat bou wat kon dien as ‘n afsaalplek en drinkplek vir die trekdiere van transportryers. Hulle het die nuwe dorp Boksburg, vernoem na ene Dr Bok, wie transportryers bedien het op hulle roete na Johannesburg.

Boksburg was kort tevore geproklammeer nadat ‘n jong prospekteerder, Pieter Killian, kwarts daar ontdek het en die eerste goudmyn aan die Oosrand begin het.

Die nuwe Boksburgmeer het vir twee jaar, nadat die bouwerk voltooi was, leeg gestaan, tot ‘n wolkbreuk dit oornag laat volloop het. Van daar af was dit ‘n lushof vir die inwoners van die kontrei en, meer bepaald, Boksburg.

Robert Bekker steier verskrik terug toe hy die tas oopmaak.

In die tas lê daar ‘n middeljarige vrou se liggaam waarvan die kop en bene ontbreek is. Die liggaam het verskeie steekwonde in die bors en rug, maar dit blyk later, volgens ‘n outopsie, na die dood toegedien te gewees het. Die liggaam was in die water vir ‘n periode van tussen 24 en 48 uur.

Navrae by omliggende polisiestasies lewer nie enige vermiste persone aanmeldings op nie. Haar vingerafdrukke is verder ook nie op rekord nie.

Ondanks wye publisiteit bly die afkop-vrou se identiteit ‘n raaisel.

Soms lewer hierdie Geregtelike Doodsondersoeke eienaardige resultate op.

Tien dae later, op 7 November, tydens ‘n roei-regatta op Wemmerpan, Johannesburg, duik die tweede deel van die legkaart op. In ‘n plastieksak dryf die twee bene van ‘n vrou, wat met ondersoek van ‘n pataloog verbind word aan die Boksburg-afkopvrou.

Duikers soek vir dae lank die dam deur, maar steeds bly die kop soek.

Drie weke later, op 17 Desember, haak twee niksvermoedende seuns, wat eers dog hulle het ‘n lui baber aan die hoek, ‘n plastieksak uit Johannesburg se dieretuinmeer. Die sak bevat ‘n erg ontbinde, tandlose kop van ‘n vrou.

Die staat van ontbinding maak die gesig onherkenbaar, maar polisiekunstenaars probeer so getrou as moontlik, sketse van die vrou publiseer. Hulle het alle vertroue dat die vrou binne enkele dae geëien sal word.

Op sterkte van die skets word die slagoffer tog geien deur Catherine Cronjé as haar moeder, Mev. Catherine Burch. Haar verloofde en familie ontmoedig haar egter om die lyk te gaan uitken, wat tot gevolg het dat ‘n positiewe uitkenning nooit geskied nie.

Die geregtelike doodsondersoek, ‘n jaar later, word afgesluit as “oorsaak vir dood nie vasgestel”. Die oorskot word daarna in ‘n armlastige graf begrawe.

Die moordenaar, wat tot daar toe nog vreesbevange moes rondloop, slaak waarskynlik toe ‘n sug van verligting. Die lyk is nooit geïdentifiseer nie, en alhoewel sy ywerige pogings om dit onidentifiseerbaar te maak gefnuik is deur die grusame fonds in drie damme, gaan hy desondanks tog vrykom.

Vier jaar later in Augustus 1968 besluit die dogter Catherine, wie sedertdien getroud is, om tog met Kapt. James Beeslaar oor haar vermoedens te gaan praat. Hy heropen die saak en sit ‘n soektog op tou vir die “vermoedelik oorledene” se eggenoot, Ronald Burch. Burch was vir die afgelope vier jaar nêrens te siene nie.

Hy was na bewering ‘n rokjagter wat drie keer vantevore getroud was voordat hy met Catherine se vermiste ma getroud is. Wat verder van belang was, was dat hy van Boksburg afkomstig was.

Met die hernude ondersoek blyk dit dat hy kort na Catherine se verdwyning bedank het. Hy het verder vir Catherine se werkgewer meegedeel dat sy siek is, en nie weer sal terugkeer nie. Met die laaste gelde aan die oorledene verskuldig in sy sak, het hy daarna spoorloos verdwyn.

Burch se moeder ontken aanvanklik dat sy weet waar hy is, maar gee op 27 November 1968 toe dat hy in ‘n agterkamer by haar bly. Sy gee ook die sleutel vir die polisie.

Toe die polisie die deur oopsluit, staan Burch in die middel van die vertrek. Hy het tuisgemaakte armbande om sy polse wat aan die elekriese prop gekoppel is. Net toe skakel hy die krag aan en skok homself dood.

Die laaste skakel om die verbintenis met die liggaam te maak was ‘n brief van die oorlede Catherine, wat haar vingerafdruk bevat het. Dit was dieselfde as dié van die liggaam in die Boksburgmeer.

Alhoewel die verskriklike moord opgelos is na die geregtelike doodsondersoek heropen is, het die bevinding tog ‘n ironies einde.

Die presiese rede vir die dood kon nog steeds nie bepaal word sonder ‘n bekentenis van Burch nie. Die inskrywing was steeds “oorsaak vir dood onbekend”.

Leave A Reply