Die jaar lê op sy rug. Dit is asof ons net weer volspoed voort stoom na die rustigheid van ‘n Covid Kersfees of twee.

Niemand is meer vreeslik bekommerd oor verdere ‘waves’ van Covid of nuwe variante wat ons vakansies kan bedreig of in die wiele ry nie. Onsself moes ‘n paar keer in 2020 en 2021 teleurgesteld toekyk hoe nuwe variante en ‘waves’ bestaande vakansiereëlings vernietig.

Hierdie jaar beplan ons ‘n vakansie in Mosambiek. Die bestemming is Guinjata ten spyte van my vrou se afkeur in ons buurland weens haar vooropgestelde idee dat almal daar ons vyandig gesind is en ons elke tien kilometer sal moet stop om omkoopgeld te betaal.

Ekself was al ‘n hele paar keer daar en dit was nog nooit nodig om ‘n sent omkoopgeld te betaal nie. Ek was ook al diep in die grammadoelas daar sonder om vir ‘n oomblik bedreig te voel.

“Die Afrika-gebruik om jou handpalm of beide daarvan te wys kom blykbaar daarvandaan dat jy aandui dat jy in vrede kom (oftewel ongewapen).”

Inteendeel, ek was elke keer baie gasvry ontvang. Die kreef, garnale en regte Pôrrahoender maak in elk geval op vir enige toevallighede.

My ondervinding is as jy beleefd en vriendelik groet, jy klaar op die voorvoet is en goeie betrekkinge vestig. Dit is soos ek deesdae die huiswerkers groet wat op pad werk toe is, as ek vroeg oggend my Garmin-‘step counter’-stappie vat. Ek lig my hand soos in ‘n tipiese Afrika-gebaar met my oop palm na die persoon toe terwyl my “dumela” of “sawubona” meestal ‘n vriendelike glimlag ontlok.

Die Afrika-gebruik om jou handpalm of beide daarvan te wys kom blykbaar daarvandaan dat jy aandui dat jy in vrede kom (oftewel ongewapen).

Op hierdie noot dink ek skielik terug aan ‘n grepie uit ons studentejare. Een van ons vriende se ouers was vir ‘n jaar oorsee en hy en ‘n klomp mede-studente het hulle huis as ‘n kommune (met ‘n sjebeen) bedryf.

Die gevolg was dat daar soms hard gekuier is en laataande gebraai is. Een van die gereelde huisgaste het op daardie stadium vir Noord-Transvaal stut gespeel. Nogal ‘n vreesaanjaende kêrel wat dikwels ‘n hou of twee na ‘n oponent op die rugbyveld gemik het, of ná die wedstryd ‘n ongewensde karakter uitsorteer het in die New Union hotel se dameskroeg.

Een betrokke aand hier kort voor middernag wou ons weereens braai maar was daar niks hout by die kommune (seker eerder sjebeen teen daardie tyd van die nag) oor nie. Dieselfde stut besluit toe dat dit geen probleem behoort te wees nie, en skop net daar goedsgemoeds ‘n deur af, wat hy verder in stukke breek vir vuurmaakhout. Niemand het gedurf ‘n woord te waag nie en die deur is later voor die oom en tannie se terugkeer uit die sjebeenfonds vervang.

Met dit as agtergrond ry ek en my swaer (toe nog studentemaat) ‘n week of wat na die laataand braai op kampus rond op soek na parkeerplek. En siedaar hier loop daai selfde stut-cum-deur-af-skopper reg langs ons kar verby. Ewe verbouereerd en effens geïntimmideer steek ons twee ons hande op en wuif op eg Afrika-manier vir hom in ‘n poging om te groet.

Ons bars albei van die lag uit toe hy eers weg is en ons besef hoe pateties ons vir omstanders moes gelyk het. ‘Well, on second thought’ was ons vir seker ons gelykes jare vooruit met transformasie en die Afrika manier van groet. En ten minste was die stut ook dubbel seker dat ons twee maer mannetjies geen bedreiging inhou nie. Wat hy van ons groet gedink het was ons nooit seker van nie.

“Niemand het gedurf ‘n woord te waag nie en die deur is later voor die oom en tannie se terugkeer uit die sjebeenfonds vervang.”

So wees dan gegroet, op die Afrika-manier met oop palms in julle rigting (of op enige ander manier wat julle verkies), en geniet die welverdiende ruskans. Ry veilig indien julle iewers heen ry.

Die voorspellers reken dat die Desember reën die sonpanele skoon behoort te hou vir genoeg krag om weereens die tradisionele skaapboud in die oond gaar te kry.

En dink tog aan my en my vrou wat in Mosambiek rondrits en waarskynlik ‘n hele paar keer met oop handpalms gaan wuif om aan te toon ons kom en gaan (ongewapen) in vrede.

Leave A Reply