So ’n paar jaar gelede vra my laeveld-korrespondent of ek sal help met ‘n saak.
Dis nie die “run of the mill” tipe sake nie. Die eiser is ‘n kranklike omie wat deur ‘n grondbaron van die laeveld, uit agentekomissie geboelie is. ‘n Plaas is vir R 53 miljoen rand verkoop en die grondbaron weier om die oom sy komissie te betaal.
Oom Elbie, soos hy bekend staan, was glo vroeër jare ‘n ywerige besigheidsman, met kommersiële eiendomme op sy naam. Die ekonomie of so iets het hom egter ook maar beetgekry, en hy het op daardie stadium nie geld vir duur Hoër hof litigasie nie.
Die feit dat hy geboelie word en boonop nog siek is, maak die besluit vir ons maklik.
Oom Elbie byt vas en die res van die saak gaan maande later op verhoor, na ‘n groot geveg met die teenkant, oor sekuriteit vir kostes.
Ons opponente is ‘n Johannesburgse firma en ons weet om nie veel genade te verwag nie.
Ons kry verlof by die hof om oom Elbie se getuienis op Kommissie af te neem. Dit beteken dat sy getuienis voor ‘n advokaat afgeneem word, omdat daar gevrees word dat hy nie sal hou, totdat ‘n verhoordatum uiteindelik toegeken word nie. Hy is regtig ‘n siek man.
By ons eerste ontmoeting met die verrigtinge, blyk dit al hoe moeilik die saak gaan wees. Toe ons daar opdaag sit daar drie prokureurs, ‘n advokaat en ‘n rekenkundige beampte. Die teenkant maak beswaar teen alles, van die bundels tot wie moet begin.
Met ‘n geskarrel skop ons af, en oom Elbie getuig goed. Hy maak toegewings waar hy nie onthou nie, maar bly by sy weergawe.
Ons verdaag en kom weer ‘n maand of wat later bymekaar om sy getuienis af te handel.
Wat opvallend is van oom Elbie is sy diepe dankbaarheid. Hy is werklik dankbaar dat ons bereid is om te help terwyl hy nie die finansiële vermoë het nie.
Oom Elbie byt vas en die res van die saak gaan maande later op verhoor, na ‘n groot geveg met die teenkant, oor sekuriteit vir kostes. Sy skoonseuns spring in en betaal die sekuriteit aan ons uiters, vinynige opponente.
Ons wen die saak en oom Elbie bel bewoë om ons weereens te bedank, net om te hoor dat die verweerder die Hoogste hof van Appél, verlof tot appél gaan vra, nadat dit in ons afdeling geweier is.
Die HHA gee verlof, om na die volbank in Pretoria te appéleer. Daar wen ons weer na ‘n jaar se verdere gewag.
Die eerste om te bel is oom Elbie, wat nie genoeg dankie kan sê nie.
Op die heel laaste dag moontlik, lewer die verweerder sy laaste poging om oom Elbie se lewe te versuur af. Dit is ‘n spesiale petisie na die Hoogste hof van Appél, om vir oulaas nog ‘n kans op appél te kry.
Dit is nou al vyf jaar na ons afgeskop het.
Ek bel op ‘n dag my korrespondent om hom mee te deel dat die saak in Bloemfontein, voor twee appélregters in kamers geplaas is vir ‘n finale beslissing.
Hy sê oom Elbie is al weer in die hospitaal.
En net daar proe ek Eugene Marais se druppel gal, in die soetste wyn van die sege.
Twee dae later sit ek gedurende middagete deur ‘n baie ou digbundel, wat op my rak is, en blaai.
Ek lees onder andere ‘n treffende gedig van Eugene Marais wat ‘n paar jaar gelede deur Laurika Rauch getoonset is. Sy vertolk dit soos hy dit seker bedoel het.
“ ‘n Druppel gal is in die soetste wyn
‘n traan is op elk vrolik snaar
In elke lag’n sug van pyn
In elke roos ‘n dowwe blaar.
Die een wat deur die nag
Ons pret beloer
En laaste lag
Is Skoppensboer.”
Dis so aangrypend dat ek dit net wil deel.
‘n Uur later kry ek berig van Bloemfontein dat die verweerder se spesiale petisie afgewys is. Uiteindelik het hulle nou die einde van hulle aanhoudende, meedoënlose poging bereik, om oom Elbie af te takel en te frusteer. Hulle moet volgens die bevel, sy agentekommissie met rente betaal.
Ek bel dadelik my laeveld korrespondent, met die nuus van die soete oorwinning.
En net daar proe ek Eugene Marais se druppel gal, in die soetste wyn van die sege.
Oom Elbie is vanoggend oorlede.


1 Comment
Nadien Steenkamp
September 6, 2024 - 9:07 pmAi At wat n hartseer storie. Ek is baie jammer vir daai reuse verlies!