‘n Boks A4 papier kos al op baie plekke meer as R 400. Dit is ‘n astronomiese prys om te betaal net om woorde vir mense leesbaar te maak.

Vraag en aanbod bepaal ook maar, soos met ander kommoditeite, die prys van papier. Dit het nogal met die Covid tydperk die hoogte in geskiet weens produksie-inperkinge destyds, maar sedertdien het dit net hoog gebly. Dalk omdat sommige papiervervaardigers in die knyp geraak het want die vraag na papier het defnitief afgeneem.

Die ander rede is dat die wêreld skielik meer digitaal geword het met mense wat van die huis af begin werk het, en nie meer so baie papiere oor ‘n lessenaar rondgeskuif het nie.

Ek lees al lankal eerder boeke in digitale formaat op my Kindle maar moet erken dat boeke altyd my na aan die hart sal lê.

In die regsberoep, wat veral nogal skuldig is aan papierverbruik, het daar sedert Covid ingrypende digitale veranderinge plaasgevind. Die hof reik nou dagvaardings digitaal uit en dokumente moet aanlyn beskikbaar wees vir die partye en regbank wanneer sake verhoor word. Die verwisseling van prosesstukke is ook nou digitaal toelaatbaar. Die ironie is egter dat daar nog steeds net soveel papier gemaak word in ‘n prokureur se kantoor as voorheen. Daar moet harde kopieë beskikbaar wees vir kosterekeninge en sommige advokate (veral die oueres) verkies steeds om papier te lees.

Die Beeld en Rapport berig dat hulle die druk van hierdie twee koerante binnekort gaan opskort en moontlik net digitaal voortgaan (of dalk glad nie meer as ek Bernard Beukman reg verstaan). Ek lees in ‘n berig hoe Dana Snyman dit betreur en met heimwee terugdink aan sy dae van jong joernalis. By hom sluit Tim du Plessis aan en vertel van vervloeë dae waar papier saakgemaak het toe drukkers deur die nag gedruk het en joernaliste moes skarrel om betyds ‘n berig in te kry voor die drukker sak.

Koos Bekker skryf in Rapport dat nege uit tien lesers van die Beeld al reeds verkies om die koerant elektronies te lees.

Ek het tot onlangs toe nog self daagliks aflewering van die Beeld gekry. Selfs deur Covid was dit as noodsaaklik beskou en was die koerant afleweraars vrygestel om in die oggende vroeg deur die verlate strate te ry om hulle belangrike werk te doen. Ek was reeds vroeg uit die vere om te lees wat in die wêreld aan die gebeure was. Dit was deel van my daaglikse roetine om dan om-en-om die huis te loop terwyl ek die koerant van hoek tot kant deurlees.

Digitale toegang tot geskrifte maak prokureurs se lewe vir seker makliker. Dit is nie meer nodig om ‘n duur biblioteek te hê en op datum te bly met die nuutste gedrukte hofverslae nie.

Sedertdien is ek ook nou digitaal en bly ek op hoogte van nuusgebeure deur my Netwerk24 app.

Ek lees al lankal eerder boeke in digitale formaat op my Kindle, maar moet erken dat boeke altyd my na aan die hart sal lê.

Op my boekrak is daar ‘n verskeidenheid uiteenlopende boeke wat daar sal bly. Daar is van die eerste geïllustreerde Austin Robberts voëlboeke wat my ouma in 1941 gekry het en daarna in 1971 vir my gegee het met ‘n mooi voorwoord van haar af “om vir die nageslag te bewaar.” Of dit nog vir die nageslag enige betekenis sal hê is te bevraagteken, met al die voël-toepassings wat hedendaags op selfone beskikbaar is.

Daar is ook ‘n vroeë uitgawe van Gray’s Anatomy wat ek op ‘n dag in Howick se tweedehandse boekwinkel raakgeloop het toe ons daar was met ‘n Midmar-naweek. Ek gebruik dit nog gereeld om die mens se anatomie beter te verstaan met derderparty-eise van kliënte. Dié het nog getekende illustrasies en nie fotos nie.

Nog ‘n boek met ‘n interessante geskiedenis op die rak is Arms and Armour. ‘n Boekprys wat ek in standerd 5 ontvang het, nogal vir Bybelkunde. Die relevansie daarvan op hierdie skoolvak het my altyd bly onwyk. Net so min relevant tot Latyn, was die boekprys wat ek vir dié vak in Matriek ontvang het, Suid Afrikaanse Sport deur Neville Leck, met fotos van bekende sportfigure en hulle storie. Latyn was alles behalwe sports. Daar was ten minste darem ‘n artikel van Francois Stander die gimnas in, wie ek persoonlik geken het.

Verder is daar ‘n paar stokou Bybels wat van oupas af kom en selfs my eie poging tot die skryfkuns wat ‘n paar sketse bevat.

Elkeen van hierdie harde kopieë van woorde, verteenwoordig ‘n spesiale plek op my boekrak.

Dit is te verstane dat papier vorentoe plek moet maak vir die digitale era. Die aarde kan eenvoudig net nie voorbly om voldoende papier te produseer sodat die feitlik onbevredigbare behoefte om dinge te verwoord, wel te bevredig nie.

Digitale toegang tot geskrifte maak prokureurs se lewe vir seker makliker. Dit is nie meer nodig om ‘n duur biblioteek te hê en op datum te bly met die nuutste gedrukte hofverslae nie. So af en toe bly dit egter bevredigend om reguit na ‘n boek toe te stap en dit oop te slaan op ‘n bladsy wat die antwoord bied op ‘n spesifieke vraagstuk. Ek sien op ‘n kennisgewingbord by die hof dat allerhande versamelings van hofverslae en ander geskrifte te koop is teen hoë pryse.

Miskien maak die harde papier kopie spoedig klaar saam met die huidige generasie, maar tot dán wil ek nog soms deur ‘n ou boek kan blaai en met slaaptyd vir die kleinkinders uit ‘n Huppelkind boek lees.

Leave A Reply