Ek hou baie van roomys. Ek weet nie waar dit vandaan kom nie, maar ek onthou roomys as deel van my lewe sover as wat ek kan terug dink… Of dit nou vanilla, sjokolade, arbei of watokal is, roomys is vir my lekker.
Toe ons jonk was het die roomysvervaardigers soos Wall’s en Dairy Maid temas gebruik om nuwe roomyse te maak. Rev was in die vorm van ‘n resieskar, Zoom was in die vorm ‘n vegvliegtuig en Two Gun Charlie het twee stokkies gehad soos ‘n cowboy se twee rewolwers aan die hand van cowboy flieks wat toe baie gewild was.
Ek het die eerste keer regte gelato in Spanje geëet toe ons in 1996 daar op vakansie was. Gelato met pistaccioneute. Vir die res van die vakansie moes ek elke dag so ‘n roomys inkry. Regte gelato is uiteraard in ‘n klas van sy eie en ‘n mens betaal ‘n premie daarvoor.
As kind was dit ‘n groot bederf as jou ma met jou verjaardag ‘n roomyskoek bestel het. Daar was nie soos vandag om elke hoek en draai roomyskoeke beskikbaar nie. Jy moes dit by die roomysfabriek bestel en dit dan daar gaan oplaai. Die karre het ook nie standaard lugversorgers gehad nie, met die gevolg dat jou ma moes wikkel om die roomyskoek in die vrieskas te kry voor dit begin smelt het.

Een van ons advokate deel my liefde vir roomys. Sy smaak is nie uitspattig nie en as ons iewers ver ‘n inspeksie het is ‘n Dairy Maid Wafer Wizz altyd op die spyskaart.
So is Van Dyk Steenkamp Inc. amper nes ‘n gelateria, en hyself is ietwat soos ‘n roomyskoek. ‘n Eksotiese lekkerny wat nie vir almal beskikbaar is nie. Die mense wat van sy dienste gebruik maak hou van die eiesoortige eksklusiwiteit daarvan.
Dis asof almal dink dat hy dalk kan opraak en hulle nie hulle fair share van hom gaan kry nie.
Maar, soos met roomyskoeke van ouds is dit nie sommer altyd goedsgemoeds beskikbaar nie. Prokureurs en ander kollegas bel my dikwels om te hoor of ek iets weet van sy beskikbaarheid. Juis omdat hy ‘n eksotiese kommoditeit is, is hy nie altyd beskikbaar nie.
Dis asof almal dink dat hy dalk kan opraak en hulle nie hulle fair share van hom gaan kry nie. Soos ‘n roomyskoek met mooi icing en versiersels kan almal ongelukkig nie van alles kry nie. Party moet tevrede wees met net roomys terwyl ander ‘n stukkie icing bykry.
Met die swaar lockdown was hy meestal in die vrieskas wegggesteek en moes die roomysliefhebbers maar sien en kom klaar. Gelukkig vir Pfizer kan mens nou so hier en daar hom te siene kry.
Laas Donderdag was so ‘n dag. Ons was voor die Adjunk Regterpresident in ‘n virtuele verhoor wat homself vir twee jaar in die Appélhof waargeneem het terwyl Rome spreekwoordelik in ons hofafdeling afgebrand het.
Donderdag het ek ‘n goeie stuk roomyskoek ingekry soos in die ou dae, met ‘n bottel Oban wat in my kas staan vanaf sy verjaardag in Maart en wat ons later na die verhoor nader gehark het.
“Met maskers wat met tye op en dan weer af was kon ek my roomyslus weer bevredig. Lank lewe ons advokaat Roomyskoek.

1 Comment
Beatrice van Dyk
August 16, 2022 - 4:47 amLank sal hy lewe die roomys advokaat