Diegene van ons wat destyds Latyn as ‘n skoolvak tot Matriek geneem het het gewoonlik nie probleme met regsfrases nie.

Ou Varkie, ons Latynonderwyser, het ons elke oggend gegroet met ‘n “Salvete discipuli” (gegroet leerlinge), waarna ons in ‘n koor terug gegroet het, “Salve magister”( gegroet meester). Hy het seker gemaak dat ons woordeskat voldoende is om die weeklikse klastoetse deur te kom met ‘n hou op die agterent vir elke verkeerd gespelde woord; maar met die moeilike verbuigings en vervoegings van die Latynse taal was hy meer geduldig en genadig.

Vir hierdie redes was Latyn 1 op universteit vir my ‘n breeze.

wees versigtig as jy ‘n deelnemer is (aan ‘n kontrak).

Latyn was destyds nog ‘n vereiste vir alle regstudies en die arme drommels wat nie Latyn op skool gehad het nie moes hierdie moeilike vereiste nakom deur Latyn Spes te slaag. Hierdie vereiste was nie om dit onnodig moeilik te maak nie, maar omrede ons reg geskoei is op die Romeins-Hollandse reg.

Soos ons almal weet het die Romeine Latyn gepraat.

Daar is mettertyd afgesien van die Latynvereiste vir regstudente, maar ons reg is nog deurspek van Latyn. Ou hofsake en regsbeginsels is vol van Latynse frases wat nie net die publiek nie, maar ook jong regsgeleerdes, dikwels verwar. Ek kan soms my lag nie hou nie vir die uitspraak van frases deur sommige van my kollegas of kliënte.

Kontrakte veral het soms lang en ingewikkelde Latynse frases wat eerder in leketaal aan kontraktante verduidelik moet word. Vandaar seker die beginsel van caveat conscriptor oftewel, wees versigtig as jy ‘n deelnemer is (aan ‘n kontrak).

Hiermee dan ‘n bietjie Latyn uit die reg om te memoriseer vir die toekoms (om ingelig voor te kom)… En sterkte met die uitspraak daarvan.

Gelukkig is ou Varkie nie daar om die spelling te toets nie, maar vra gerus die prokureur as jy nie verstaan nie.

Ab initiovan die begin af
Ad idemas partye dit eens is
Amicus curiae‘n party (vriend van die hof) in ‘n saak wat nie regtig ‘n deelnemende party is nie maar wat ‘n bydrae kan lewer
Audi alteram partemdie beginsel dat albei partye se weergawe gehoor word
Bona fidein goeie trou
Causaoorsaak
Curator ad litem‘n persoon wat ‘n ander persoon se regsbelange waarneem (gewoonlik ‘n advokaat of prokureur)
Curator bonis‘n persoon wat ‘n ander persoon se finasiële belange behartig en wat aldus deur ‘n hof aangestel is
Curator ad personam‘n persoon wat omsien en besluite neem oor ‘n ander persoon se liggaamlike behoeftes waar laasgenoemde nie in staan is om dit te doen nie
Contra bonos moresteen die goeie sedes
Compos mentiswanneer iemand by sy volle positiewe is
Domicilium citandi et executandi‘n adres wat ‘n party tot ‘n ooreenkoms kies as sy domisilie waar hy betekening van prosesstukke sal aanvaar al is hy nie in persoon daar teenwoordig nie
De bonis propriisgewoonlik vewysende na kostebevele waar die regsverteenwoordiger of ander beampte (wat nie ‘n gedingsparty is nie) die koste moet betaal
Doli incapaxontoerekeningsvatbaar (minderjariges onder sekere ouderdomme of sekere geestesongestelde persone)
Ex gratiaas ‘n guns (gewoonlik ‘n betaling as skikking sonder om skuld te erken)
Ex abundanti cautelaom iets versigtigheidshalwe te doen sonder dat dit werklik nodig is
Ex parteom namens slegs een party die hof te nader
Ex post factoas iets na die tyd blyk
In cameraverrigtinge wat plaasvind sonder algemene toegang (in kamers)
In rein die aangeleentheid van
Locus standi – die reg om ‘n party tot ‘n betrokke saak te wees
Mutatis mutandismet die nodige veranderinge
Mandamus‘n hofbevel om ‘n sekere handeling te verrig
Non sequitorwanneer iets nie logies op iets ander volg nie
Nomine officioin ‘n amptelike hoedanigheid(soos ‘n eksekuteur of ‘n kurator)
Pro amico (bono)sonder om ‘n fooi te hef
Prima facieop sigwaarde alleen
Pro formaas ‘n dokument in konsep opgestel is en onderhewig aan goedkeuring is (soos ‘n kontrak of hofbevel)
Quid pro quoiets doen vir teenwaarde
Res ipsa loquitordie feite spreek vir sigself
Sub judiceas ‘n saak in ‘n hof hangende is. Nie soos wanneer politici dikwels graag daarna verwys as ‘n saak nog ondersoek word nie
Sine diemeerendeels gebruik wanneer ‘n saak uitgestel word na ‘n onbepaalde datum toe iewers in die toekoms
Subpoena ‘n getuiedagvaarding vir iemand om in ‘n saak getuienis te lewer
Vis major‘n klousule in kontrakte wat verwys na buitengewone onvoorsienbare gebeurtenisse(act of God)

Ek dink ek moet hier eindig voor ek by begrippe soos qui prior est in tempore potior est in jure of derglike Latynse frases uitkom waarvan daar nog tientalle is.

Salutem lectori (totsiens lesers)

Leave A Reply