Agter elke suksesvolle man is daar ‘n wyse vrou – Mark Twain.

Ons onthou, ‘Agter elke man’ eerder vir tannie Stienie in die televisie reeks met dieselfde naam wat in die negentiger jare baie gewild was. Die tannie was ‘n ystervrou in ‘n minder gegoede huishouding waar sy met haar Rothmans sigaret in die hand die dag tot dag uitdagings die hoof moes bied.

Ek het so ietwat van ‘n sentimentele kant aan my en delf gereeld in ou geskrifte of elders rond om hierdie behoefte te bevredig. So,lees ek onlangs weer my neef se huldeblyk aan sy ma met haar begrafnis. Hy trek die tannie Stienie-karakter mooi deur na sy ma toe om te wys wat sy alles gedoen, het deur in maer jare ‘n huishouding bymekaar te hou.

Ja, daar was al baie Margaret Thatchers… maar oneindig meer tannie Stienies wat op die agtergrond berge versit het, of opofferinge gemaak het.

Baie van ons kan assosieer met dit. ‘n Ma of ouma of ander vrou wat betekenisvol verskille in lewens maak. Sommige wat, dikwels ten koste van hulleself, opofferings maak om mense se lewens aan te raak.

Daar is baie vroue wat weens die verskil wat hulle maak tog vereer word en erkenning kry. Ja, daar was al baie Margaret Thatchers en Coco Chanels of Emily Hobhouses wat bekend was vir wat hulle bereik het en erkenning daarvoor ontvang het, maar oneindig meer tannie Stienies wat op die agtergrond berge versit het, of opofferinge gemaak het.

In my argief tel onder andere ‘n ou tassie van Beatrice se oupa wat al sy St Johns joernale en dagboekies bevat. Ek het ook ‘n netjiese leer briewetas van my pa met sy vakleerling sertifikaat en ou fotos waar die jongmanne, kaal-bolyf, planke vir dakkappe aanmekaar timmer. Daar is ook ou vervalle aandelesertifikate en derglike papiere in.

Nog ‘n tassie wat ek meer onlangs in besit geneem het bevat iemand se dokumentêre klein node. ‘n Bababoekie van ‘n dogtertjie wat vroeg oorlede is en kaartjies of telegramme met woorde van simpatie. Ek het al ‘n keer of wat deur die tassie gewerk en die ou briefies gelees.

Dit is wat vrouens doen. Hulle offer hulleself op terwille van ander.

Vir een of ander rede maak ek gister weer die tassie oop en sien vir die eerste keer ‘n koevertjie raak. Dit is ‘n blou verwese koevertjie met ‘n vyf-bladsy briefie daar binne. Dit is gedateer 20 September 1958 en gerig aan “My kinders. Met baie liefde en seënwense-Mammie”

In die briefie vertel die ma hoe graag sy ‘n vriendin vir haar kinders wou wees en dag tot dag hulle lewens meemaak maar dat sy gefaal het. Sy verduidelik dan dat die rede daarvoor buite haar beheer was. ‘n Mens lei af dat sy verhuis het na ‘n ander dorp om daar te gaan werk. Nie omdat sy soseer wou nie maar dat finansiële druk dit vereis het. Sy vra verskoning vir haar afwesigheid waar sy eintlik lof moes ontvang vir haar opoffering.

Dit is wat vrouens doen. Hulle offer hulleself op terwille van ander. Dit was laas Saterdag Nasionale Vrouedag. Ek hoor oor die radio dat hulle meen dat dit eintlik Vroue Maand is. Selfs ‘n maand is te kort om erkenning te gee.

Mark Twain het die spyker op die kop geslaan met sy bogenoemde stelling wat amper elke mens op aarde ken.

Ek weet dit eerstehands want ek herken nou die handskrif en die datum van die brief val my ook nou by. Die vrou wat dit geskryf het, het op daardie dag verjaar. Sy het ‘n verplasing Pretoria toe gekry om ‘n afdeling vir AVBOB oop te maak.

Die afleiding wat ek maak is dat sy haar verjaardag in Pretoria deurgebring het terwyl haar twee kinders en haar man in Bloemfontein was.

Dit is sulke opofferinge wat vrouens maak.

Leave A Reply