My goeie vriend Anton se afskeidswoorde aan my toe hulle in 2000 na Australië geemigreer het was dat as jy besluit om eerder te bly as te gly, jy ten minste die ‘spoils’ van die kontinent moet benut en geniet.

Ons was amper self op pad na Men at work se‘ land down under’ toe maar het weens ‘n sameloop van omstandighede besluit om te bly. Tot nog toe het nie een van ons kinders eers oorweeg om te emigreer nie, waarvoor ons dankbaar is.

Dis nie noodwendig dat ek Anton se advies nodig gehad het nie. Ons was al van die vroegste dae af benutters van Afrika se mooiste plekke. Miskien omdat beide ek en my vrou se ouers ons blootgestel het aan die bos. Ons het beide groot geword in huise wat lief is vir die bos en op die minste die destydse Rhodesië besoek het. Die Victoria watervalle was al van kindsbeen af in my geheue graveer as die asemrowende natuur skouspel wat dit is.

Daar is werklik niks soos die afsondering van afgeleë plekke wat letterlik jou siel laat rus nie.

Die ander buurlande het spoedig ook deel van ons bestemmings geword en daar gaan omtrent nie ‘n jaar verby wat ons nie iewers in ‘n diep bos of uitgestrekte vlakte die son sien ondergaan of opkom nie, in beide gevalle ewe skouspelagtig.

Daar is werklik niks soos die afsondering van afgeleë plekke wat letterlik jou siel laat rus nie. Ons word daagliks gebombardeer met inligting tot so ‘n mate dat ons nie meer behoorlik tyd maak om te ‘detox’ daarvan nie.

Daar is deesdae nogal heelwat navorsing oor die oormaat inligting waaraan ons blootgestel word. Sommige lande het nou selfs beperkinge op toegang van jongmense aan sosiale media. Ons ervaar ook hierdie dilemma met ons eie kleinkinders se verknogtheid aan hulle selfone.

Ons was al weer op pad na ‘n ongerepte wildernis waar ons vir ‘n goeie ruk verlos sou wees van inligting en tegnologie.

Na laasjaar se Kgalagadi-reis het ons kamp-groep besluit om die Gonarezhou-opsie te ondersoek. Johan het, soos laasjaar, die voortou geneem en al wat ‘n Youtube video is gekyk om ‘n haalbare roete uit te werk. Ons was goed opgewonde na al die reëlings in plek was en die parkgelde betaal is.

Ons was al weer op pad na ‘n ongerepte wildernis waar ons vir ‘n goeie ruk verlos sou wees van inligting en tegnologie. Hierdie keer egter bewapen met ‘n Garmin InReach mini2 satelietfoontjie. Net vir ingeval..

Te midde van die ‘March to march’ aanslag op buitelanders en die daaropvolgende massiewe uittog as gevolg hiervan, het ons eerder die grens oorgesteek Mosambiek toe en daarna Zimbabwe toe.

Sulke reise verg goeie beplanning vir gebeurlikhede want daar is maar altyd iets wat voorval. Hierdie keer was die enigste teëspoed ‘n kabel of twee wat in die slag gebly het met ‘n stamp deur ‘n sloot en ‘n vassit of twee waarvan een daarvan nogal met die oorsteek van die Runde rivier was. Twee Noordwes boere met Land Cruisers was toevallig nét deur die rivier en kon toe help om die wa deur die spreekwoordelike drif te kry.

Die bos of ander sulke plekke laat nie toe dat jy tyd het om jou digitale afhanklikheid te voer nie.

Dit verg jou onverdeelde aandag met allerlei take om basiese behoeftes te bevredig. Gewone dagtake wat kan maak dat jou bos ervaring aangenaam óf dalk aaklig is.

Verder is daar tyd om ‘n vuur, of langs ‘n potjie wat kook om werklik aandag aan mekaar te spandeer. Soos Koos Kombuis onlangs skryf word gesprekke deesdae gereduseer tot Emoji’s. In stede daarvan om vir iemand geluk te sê stuur jy bloot eenvoudig ‘n Emoji met twee sjampanje glasies wat klink.

Jy leer werklik mekaar ken as jy tyd in die bos saam spandeer. ‘n Mens kan net vir ‘n bepaalde tyd jou beste voet voor sit of voorhou om iemand te wees wat jy nie is nie. Daarna is jy jouself. Jy leer ook weer om behoorlik te kommunikeer in lang gesprekke wat nie in Emoji’s vervat kan word nie.

Ons is nou weer agter die lessenaar en besig om te doen waarvoor ons opgelei is. Die Gonarezhou-ervaring iets van die verlede. Ons gesels weer in kort kriptiese WhatsApp boodskappe met mekaar met hier-en-daar ‘n Emoji of twee.

My advies uit persoonlike ervaring is om gereeld kop skoon te maak ver van alle tegnologie en verkieslik iewers met ‘n mooi uitsig.

Regslui het tradisioneel ‘n geneigdheid om hulle spreekwoordelik dood te werk. Nie dat ek daaraan skuldig is nie maar ek herinner my aan mense soos Louis Shapiro wat berug was vir sy ywer. Daar is tong-in-die-kies gesê dat hy op ‘n vakansiedag oorlede is sodat sy kantoor personeel nie werk moes verloor nie. Net soos hy is daar vele ander regslui wat amper dag en nag werk.

My advies uit persoonlike ervaring is om gereeld kop skoon te maak ver van alle tegnologie en verkieslik iewers met ‘n mooi uitsig.

My troos, terwyl ek agter my lessenaar sit en ‘n papier oorlog voer, is dat ek wel mettertyd weer kans sal kry om iewers onder ‘n hardekoolboom my van die digitale wêreld af te sonder en net weer mens te wees.

Leave A Reply