George Orwell se boek met hiérdie naam het hy in 1947 al gepubliseer. Die boek word deur Time Magazine gelys as in die Top 100 verhale van alle tye.

Hy skryf oor ‘n tyd in die toekoms (1984) waar die wêreld in ‘n staat van permanente oorloë verval en dit in ‘n totalitêre omgewing ontaard het waar Big Brother oorsigtelik in beheer is. Ja, Orwell is die skepper van die magiese Big Brother-karakter wat almal vandag ken.

“Dit was nog altyd die mens se wens om ‘n blik in die toekoms te hê.”

Ten spyte daarvan dat dit fiksie was in 1947, is daar nogal ‘n onstellende komponent van dit wat waarheid geword het. Dinge soos massa surveillance en hoe die waarheid gemanipuleer word was wetenskapfiksie in 1947 maar is nou alledaags. Jy kan maar sê George Orwell het nogal ‘n skrikwekkende akkurate toekomsblik gehad.

Ek het self, toevallig en onwetend, so ‘n toekomsblik gehad toe ek my sestigste verjaardag ‘n jaar voortydig in 2019 gevier het. Dit was tong-in-die-kies en sonder die geringste vermoede dat 2020 en die jaar daarna se Covidepidemie sulke vieringe onmoontlik sou maak.

Dit was nog altyd die mens se wens om ‘n blik in die toekoms te hê. Mense lees horoskope en besoek waarsêers en lees rubrieke van ekonome oor wat die toekoms vir hulle inhou. Siener van Rensburg uit ons geledere en Nostradamus se werke word steeds daagliks bestudeer en geïnterpreteer om iets te weet van wat voorlê. Koning Saul het selfs so ‘n waarsêer besoek uit vrees vir wat die toekoms vir hom inhou.

Wie sou vroeg in 2020 kon voorspel het dat die wêreld ekonomie met 6% sou daal teenoor 2019 en dat die werkloosheidsyfer met bykans 5% sou styg binne die bestek van ‘n jaar nie. Dit is hoe onvoorspelbaar die toekoms is.

Pas na die destydse aankondiging van die Covid-19 inperking het Dawie Roodt voorspel dat Suid Afrika se ekonomie in 2020 met tussen een en drie persent sou krimp. Die werklike syfer waarmee die ekonomie toe gekrimp het was meer as sewe persent.

Die kort en die lank is dat die toekoms, op sy beste, maar onseker is.

Wie sou byvoorbeeld kon raai dat ou Cyril die Phala Phala-debakel sou oorleef het (of ten minste tot dusver…)?

Daar word tans allerhande voorspellings gemaak oor die 2024 verkiesing en die voortbestaan van die ANC. Alhoewel die party besig is om homself te verteer bly dit alles maar net bespiegelinge. Soos Jeffrey Archer skryf: “Only time will tell”.

“Die kort en die lank is dat die toekoms, op sy beste, maar onseker is.”

Die Woord het darem vir ons ‘n paar riglyne oor die dinge van die toekoms. Soos byvoorbeeld, “Moenie vandag bekommerd wees oor wat môre sal gebeur nie. More sal sy eie probleme hê waaroor julle bekommerd sal wees”.

En ook die les van dat daar nie op prinse vertrou moet word nie.

Ek sien die Gereformeerde Kerk se sinode is weer op hande. Die rubriek haal Ds Van Rooy aan oor die hedendaagse vraagstukke van of Covid en al die oorloë God se wil is met verwysing na die ou vertaling van Mat 10:29. Dit gaan oor die twee mossies en nie een wat sal val ‘…sonder die wil van julle Vader nie..’

Die nuutste 2020 vertaling het verander na ‘..sonder julle Vader nie..’ Dit meen dat in ons gebroke wêreld gebeur daar ook slegte dinge met ons maar dat ons Vader in dit alles by ons is. Dit is nie as sulks Sy wil dat slegte dinge met ons gebeur nie.

Al sou dit tot ‘n mate gaaf wees om te weet wat 2023 vir ons inhou sodat ons voorbereid kan wees daarop, kan ons mekaar maar net in vertroue voorspoed toewens vir 2023 en verder is dit, wat moet gebeur sal gebeur. Ons Vader is in dit alles met ons.

Leave A Reply