Ek en my vrou praat oor die negentigs en die eerste dekade van 2000. Ons kan nie mooi onthou hoe ons dit reggekry het om vier kinders betyds by die skool te kry na besige sport roetines en huiswerk die vorige dag nie.

Ons kan nie eers onthou wie hulle afgelaai het nie, want sy het op daardie stadium klas gegee by Tand-en-mond hospitaal en moes al sewe-uur soggens aanmeld. Ekself was vroeg werk toe.

Die gesprek het opgekom na ons, onsself skielik terug in 1996 bevind met twee laerskoolkinders in ons sorg en onder ons dak terwyl die ouers iewers in Turkye rond rinkink en ‘n huweliksherdenking vier.

Dis vroeg op, kos gee, skoon aantrek, kyk dat die tande geborsel word, kosblik pak en dan betyds by die skool besorg. In die middae is dit sport, kultuur, ekstra lees of wiskunde en wat ook al nog op die skedule verskyn (wat hulle ma sorgvuldig per skedule uitgetik en op die yskas langs die kleuter sketse met ‘n magneet vasgeplak het).

Die voorreg om vir ‘n paar dae net weer ‘n werksrat terug te skakel om tyd te maak vir twee kinders, laat jou herbesin oor wat nou eintlik in die lewe betekenisvol is.

Ek het ‘n paar jaar gelede Bob Buford se boek ‘Half time: Moving from success to significance’ gelees. Baie goeie leesstof wat filosofeer oor hoe ‘n mens die klem behoort te verskuif wanneer jy iewers op die punt kom en besef dat jy nie vir jou hele lewe lank sukses moet najaag nie. Sukses is in elk geval ‘n relatiewe begrip net soos wat die een ou se pondok die ander ou se paleis is.

Teen wat meet jy jóú sukses? Of hoe word jy betekenisvol?

Die voorreg om vir ‘n paar dae net weer ‘n werksrat terug te skakel om tyd te maak vir twee kinders, laat jou herbesin oor wat nou eintlik in die lewe betekenisvol is. Ons vra onsself die vraag af óf ons al klem verskuif het.

Kleinkinders is waarskynlik die eerste linie waar grootouers ‘n betekenisvolle verskil kan maak. Beide ek en my vrou was in die gelukkige posisie om as kinders grootouers te hê wat regtig betekenisvol in ons lewens bydraes te lewer.

Sy het leer hekel, brei en bak en brou terwyl sy en haar niggies vakansie by haar grootouers gekuier het. Ek het hulle ook geken. Hulle was mense wat beginselvas hulle geloof uitgeleef het en goeie waardes in hulle kleinkinders gedeponeer het.

Ek, weer, het vir kort tye in my kleuterjare by my oupa en ouma gebly. My broer was glo ‘n koliekerige baba en my grootouers het gehelp om die dubbele las van ‘n kleuter en ‘n baba te verminder. Hulle het onder andere gesorg dat ek die Onse Vader en Psalm 23 uit my kop geken het voor ek nog skool toe is. Ek het ook my ouma se onvoorwaardelike ‘gee-hart’ leer ken. Betekenisvolle insette in ‘n kind se lewe.

Met ons eie tweeling was my ouma weereens op haar pos om betekenisvol ‘n bydrae te lewer. Sy het selfs in haar oudag kom help as ons sukkel om kop bo water te hou met twee mondjies wat gelyktydig gevoed moes word en winde wat uitgeklop moet word.

Die maklikste plek egter om betekenisvol te begin leef is waar ‘n mens geseën is met kleinkinders.

‘n Prokureur of advokaat word juis gemeet aan sy of haar sukses. Niemand wil tog een gebruik as hy of sy nie ‘n goeie sukses rekord het nie. Sukses in die professie word ongelukkig ook tot ‘n mate gemeet aan finansiële welvaart. Ek onthou ‘n keer toe ons nog jong prokureurs was. ‘n Kollega wie se kinders saam met ons s’n op skool was het op ‘n dag vir my gesê dat prokureurs ten minste ‘n Mercedes moet ry, anders dink die publiek dat hy onsuksesvol is.

Gelukkig het die opmerking darem nie by my aanklank gevind nie. My beter voorbeeld was ‘n advokaat vriend wat met ‘n goedkoop VW Golf gery het. Materiële goed het geen indruk op hom gemaak nie ten spyte van sy vêr bo gemiddelde breinkrag en sy sukses in die hof.

Daar is vele geleenthede om betekenisvol by te dra binne die werk milieu. Elkeen kan sy eie pas bepaal en volume dikteer waar hy of sy iewers iets beteken sonder om geld vir dit te vra of ‘n suksesvolle wen af te ‘tick’.

Die maklikste plek egter om betekenisvol te begin leef is waar ‘n mens geseën is met kleinkinders. Ek poog waar my vrou dit eerder reg kry om werklik betekenisvol in ons kleinkinders se lewens te wees. Sy vat hulle op spesiale uitstappies as hulle verjaar, leer hulle tolletjie brei en hekel en bak saam plaatkoekies. Sy ry hulle aan vir ekstra wiskundeklas of drama en plak pleisters of staan by as daar bloed getrek moet word.

Sy is ‘n oor vir klein kindertjies en gee leiding soos nét sy kan. Haar suksesvolle loopbaan as mondhigiënis het seepglad omgeskakel in ‘n lewe van betekenis op ander fasette van die lewe.

Finansiële sukses dra bitter min by tot jou geluk.

In die tussentyd stoei ek nog voort met die dag-tot-dag uitdagings van ‘n prokureurspraktyk. Alhoewel sukses nie iets is wat ek elke dag bedink nie, word my bestaan nog tot ‘n mate gedryf juis deur sukses, uit die adversariese aard van ons beroep. Gelukkig vir my het ek al ‘n tyd gelede besef dat finansiële sukses bitter min bydra tot jou geluk.

Ek het egter nog baie om by my vrou te leer sover dit die oorgang van sukses na betekenisvol betref. Die klem by my het nog nie heeltemal verskuif nie.

Leave A Reply