Ons het vanaand ons maandelikse wynklubaand. Die klub bestaan uit vier dokters en twee regsgeleerdes, synde myself en ‘n advokaatsvriend.

As ons werk praat is dit gewoonlik spottenderwys, enersyds oor die mediese lyn van werk, andersins oor regte. Ons praat nie oor goed soos mediese nalatigheid nie. Nee, ons proe goeie wyne en lewer kommentaar daaroor en stem meestal saam oor die onderwerp. Almal het hulle opinie oor hierdie kontensieuse onderwerp maar dit liefs buite die wynproe gelaat.

Mediese nalatigheid is eintlik ‘n misnomer. Nalatigheid is ‘n objektiewe regstoets om te bepaal of iemand se optrede aan die redelike man se standaard voldoen het, of jy nou ‘n dokter is of nie. Daar is twee fasette van die toets, naamlik: Eerstens, of die delikspleger die redelike moontlikheid van die intrededing van die gevolge sou voorsien het wat die verlies veroorsaak het. Tweedens, of daardie persoon redelike stappe sou neem om die gevolge te vermy.

“Nalatigheid is ‘n objektiewe regstoets om te bepaal of iemand se optrede aan die redelike man se standaard voldoen het, of jy nou ‘n dokter is of nie.”


Wanneer dokters betrokke is word die toets aangepas om te vra wat die redelike dokter se optrede onder die bepaalde omstandighede sou wees. Daar word nie van ‘n dokter (net soos nie van enige ander professionele persoon soos ‘n prokureur) verwag om die hoogste moontlike vaardigheid toe te pas nie.

Die toets is, anders gestel, of die optrede of gedrag van die dokter kort skiet aan die standaard wat van ‘n redelike vaardige praktisyn in soorgelyke omstandighede verwag word.

Baie prokureurs deins terug van mediese nalatigheidseise vir verskeie redes. Dit is hoogs tegniese regswerk wat ‘n redelike kennis van die mediese wetenskap verg. Verder is dit duur litigasie wat deskundige opinies benodig om uiteindelik ‘n hof op ‘n oorwig van waarskynlikhede te oortuig van jou klient se saak.

‘n Ander groot afskrikmiddel van hierdie tipe sake is waarna die destyds bekende Prof S A Strauss in sy ewe bekende handboek Doctor, Patient and the Law na verwys het as die sogenaamde conspiracy of silence. ‘n Ietwat onregverdige verwysing na dokters (in die algemeen) se minder ywerige begeerte om teen kollegas getuienis te lewer.

“Ten spyte van sulke uitdagende vooruitsigte kan jy net eenvoudig nie jou rug op iemand draai wat, na jou leke-mening, ‘n prima facie saak het nie.”

Ons praktyk neem met die voorafgaande in gedagte huiwerig ‘n opdrag in, om teen medici te litigeer. Veral na ek in die negentiger jare druipstert moes wegstap na ‘n verhoor wat twee-en-veertig dae geduur het. Aan die einde daarvan het die regter ‘n bevinding van absolusie van die instansie gelas. DIt beteken dat ons klient (die eiser) nie noodwendig verkeerd was nie maar dat die regter bloot nie op die getuienis voor hom kon bevind of die dokter nalatig was of nie was nie. Omdat die bewyslas op ‘n eiser berus het die regter die bevinding gemaak. Na regte kon ons die saak van vooraf voer en ‘n ander regter met nuwe getuienis tot ander insigte probeer oortuig.

Ons klient was net te voos om weer deur so ‘n saak te worstel.

Ten spyte van sulke uitdagende vooruitsigte kan jy net eenvoudig nie jou rug op iemand draai wat, na jou leke-mening, ‘n prima facie saak het nie. Spesifiek veral sake waar die publieke gesondheidsektor wat behandeling betref deesdae ver te kort skiet.

In die Departement van Gesondheid se parlementêre portefuelje kommittee se verslag van 27 September 2023 en volgens die Ouditeur-genl was die totale blootstelling weens mediese nalatigheidseise teen die Staat in Maart 2023 R77 biljoen. Dit is astronomiese bedrae wat potensieel vermors word weens sub-standaard behandeling, darem nie net van dokters nie maar ander werknemers in die gesondheidsektor.

Soos die geval van Mev M wat my onlangs kom sien het. Sy het klagtes van probleme met een van haar borste gehad waarna sy aandoen by Evander hospitaal. Sy word deur hulle verwys na Witbank hospitaal en daarna heen-en-weer tussen die twee Staatshospitale sonder dat sy gediagnoseer en behandel word.

Uiteindelik na maande se in rye, sit en wag net om weer onverrigte sake weggestuur te word, kry sy uiteindelik toegang tot Steve Biko hospital waar dinge beter gaan. Ongelukkig nou te laat vir ‘n mastektomie, weens metastasis (altans so word ons meegedeel) maar darem met die hoop van chemoterapie. Net die tyd sal leer…

So is daar nog andere wat ons hulp nodig het en op wie óns as praktyk nie ons rug sal draai nie. Ten spyte van die moeilike en duur litigasie maar gelukkig darem met die ondersteuning en menings van dokters wat die groter prentjie verstaan. Almal kan foute maak, selfs dokters.

Vanaand gaan ons goeie wyn proe sonder om werk te praat, moontlik om ongemaklike debatte te vermy oor nalatigheid en ander filosofiese aspekte van die Medisyne en die Reg.

Môre kan elkeen weer sy eie mening hê oor nalatigheid binne die mediese sfeer. Ten minste behoort ons dit eens te wees dat Platter se vyfster wyne inderdaad die toekenning werd is.

4 Comments

  • Johanette Schmidt

    May 7, 2024 - 7:30 pm

    Ek was in motorongeluk en my CT scan is nie behoolik gelees of verstaan nie. Met d gevolg op dag 8 is eers gevind Dat d aanvankkije 3 ribbes, eintkik 10 gebreek is,plus my sternum en rug vanaf T2 tot T9. Waarvan d T8 gaan lê het. Boon op het als krom aan gegroei want ek is nie ge opereer nie,niemand wou my later help nie,want ek is n IOD patient. Wat staan my te doen.

  • Alyssa

    April 3, 2025 - 7:31 am

    Ek was getrap deur n forklift wat deur gegaan het op IOD. Toe ek die vrydag by ongevale kom het hulle vir my pyn medikasie gegee en gese ek kan die maandag weer gaan werk. 2 jong doctors het geen behoorlike inspeksie gedoen en my huis toe gestuur. 2 dae later het hulle my opgeneem. Ek was in vir n paar operasies en het omenby 3 weke in die hospitaal gele waar my been swart geword het en later aan het dit groen geword en begin infeksie optel. Die wond susters het nie behoorlik na my wond versorg nie. Ek was later oorgeskyf en het die korrekte prosedures ontvang. Is daar enige hulp wat ek kan ontvang om dit n saak te maak ?

    • webdev

      April 4, 2025 - 11:19 am

      Alyssa, ons kan jou help hiermee. Maak asb by ons ‘n afspraak sodat ons die saak verder kan bespreek: 012 567 3329 / 012 567 2158

  • Jaco de beer

    November 1, 2025 - 12:41 pm

    Ek was by die tand aarts om twee tande te trek.isvir my gese hulle kan nie wand dit is in my sinus weer gese ek moet kom dan trek hulle dit toe weer nee deur die assitente hulle kanie sit nou al twee jaar met pyn.

Leave A Reply